eMbalenhle klop Bethal se eerste rugbyspan met 28-27

Bethal se manne was kennelik teleurgesteld met die uitkoms, veral omdat tyd met ’n vuisgeveg langs die veld vermors is. Die wind het ook telkens die verdoelskoppe gekaap wat kosbare punte in die slag laat bly het

BETHAL – Sasol eMbalenhle Rugbyklub het op Saterdag 20 Julie die eerstespan van Bethal naelskraap met 28-27 geklop.

Dié span het sodoende vir hulself vyf punte op die Phakisa Burgemeestersliga se ranglys verseker, terwyl Bethal wat tans sterk vertoon, slegs een punt bygekry het.

Bethal se manne was kennelik teleurgesteld met die uitkoms, veral omdat tyd met ‘n vuisgeveg langs die veld vermors is.

Die wind het ook telkens die doelskoppe gekaap wat kosbare punte in die slag laat bly het.

Boonop het albei spanne gevoel die skeidsregter was onervare en het nie ontkantfoute en vuilspel raakgesien nie.

Bethal het goed begin toe hul kookwater-buitesenter, Marcel Human, ‘n drie binne die eerste minute van die wedstryd gedruk het. Hy was ook Bethal se skopvoet, maar het nie met die doelskop geslaag nie.

eMba se heelagter, Sibusiso Sikhosana, het kort hierna ook die eerste punte vir sy span aangeteken.

Thabiso Tsotetsi wat op linkervleuel uitgedraf het, het die drie verdoel en die telbord na 7-5 in eMba se guns opgestoot.

Bethal het in die eerste helfte in eMba se kwartgebied geboer, maar kon net nie deurbreek nie.

eMba het weer asem geskep toe Bethal naby die middellyn gestraf is.

eMba se kaptein het die bal met ‘n effense skoppie in die rigting van Bonile Gidi, eMba se skraal slot, gestuur wat saam met die toekantflank, Sunday Moshani, oopgelê het doellyn toe met soveel spoed, dat die Bethal-spelers net stilgestaan het.

Slegs een agterspeler het naby hul doellyn vir Gidi gepak, maar toe was die bal reeds inMoshani se hande en het hy dit tussen die pale gaan plant.
Tsotetsi het die drie verdoel.

Die rustydtelling was 14-5 in eMba se guns. Die grootste deel van die tweede helfte het weer in eMbalenhle se kwart- en doelgebied afgespeel waar Bethal telkens balbesit gehad het, maar net nie vir ‘n drie kon deurdruk nie.

Skrum na skrum het of ingesak of gedraai – met tye selfs regs langs die pale.

Bethal-spelers probeer, Sibusiso Sikhosana, eMba se gevaarlike heelagter, plat trek.

Die druk op eMba was groot, maar die spelers het nie daaronder geknak nie.

Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het die blitsige Gidi weer die bal opgeraap en met ‘n paar systappies om die Bethallers ‘n drie onder die pale gedruk.
Tsotetsi het die drie maklik verdoel en die punte na 21-5 opgejaag.

Al die aksie het weer na eMba se doellyn verskuif, maar hierdie keer het die Bethallers met brute krag die oormag gekry en het Marinus Young, toekantflank, oor die doellyn gebeur en ‘n drie gedruk.

Weer is die drie nie verdoel nie en het eMba steeds met 21-10 voorgeloop.

Dit was egter net genoeg om die Bethallers weer moed te gee.

Human het weer losgebreek en nog ‘n drie onder die pale gedruk wat hy ook verdoel het.

eMba se Sikhosana het hierop geantwoord met nog ‘n vinnige drie onder die pale wat slegs ‘n kort skoppie benodig het om te verdoel.

Die telling was toe 28-17 in eMba se guns.

Die Bethallers se bloed en gemoedere het teen hierdie tyd begin kook.

Toe Michael Zondag, Bethal se slot, sy hande op die bal gekry het, kon niks hom stuit nie.

Sy drie is egter ook nie verdoel nie en eMba se voorsprong was steeds 28-22.

Bethal se linkervleuel, Eben Joubert, het in die doodsnikke van die wedstryd nog ‘n onverdoelde drie gedruk wat die eindtelling op 28-27 te staan gebring het.

Die tweedespan van Bethal het hierna teen Matla uitgedraf.

Dié wedstryd is met sowat 15 minute verkort omdat dit te gou donker geword het. Bethal het met 14-27 verloor.

Vir meer fotos volg hierdie skakel:

[GALERY] Bethal en eMba meet rugby-kragte

Exit mobile version