Morné Kuhn (17) spog met silver medalje by top hengelkompetisie

Die land se beste junior, senior, meesters- en vroue-hengelaars is na hierdie byeenkoms genooi

SECUNDA – Morné Kuhn (17) van Secunda is aangewys as die tweede beste junior hengelaar in Suid-Afrika.

Die graad 11-leerder van Morgenzon Landbou Akademie wat verlede jaar as Mpumalanga Varswater Oewerhengel-vereniging se juniorkampioen aangewys is, het die naweek van 25 April aan die Kampioen van Kampioene-hengelbyeenkoms by Eilandsmeer in Chrissiesmeer deelgeneem.

Die land se beste junior, senior, meesters- en vroue-hengelaars is na hierdie byeenkoms genooi.

Morné hengel in die 0/19-afdeling vir juniors en het by die prestige byeenkoms met ‘n algehele tweede plek weggestap.

Morné Kuhn maak seker sy visstok is reg om ingegooi te word. Hy word geken vir sy akkurate en ver gooie.

Hy en sy ouers, Morné (snr) en Nicolene Kuhn wat ook op nasionale vlak hengel, is lede van die Standerton Hengelkub.

Morné verteenwoordig Mpumalanga sedert hy 14 jaar oud is.

Hy het vroeër vanjaar ‘n vierde plek uit 126 kinders by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap behaal.

Hy mik om vanjaar sy Protea-kleure te verwerf.

Om dié prestasie van die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) te behaal, moet die hengelaar ten minste een keer ‘n lid wees van ‘n uitnodigingspan en dan van die A-span wat op die SAVOF-kampioenskap gekies word om op toer te gaan.

Morné Kuhn met sy vangs vir een dag by die Kampioen van Kampioene-kompetisie.

Morné kan ‘n regmerk op sy kerfstok by albei hierdie vereistes maak.

Hy is in 2017 vir die uitnodigingspan gekies en het verlede jaar die A-span gehaal.

Morné leef vir hengel en die buitelug.

Hy mag nie kontaksport beoefen nie, omdat hy in 2016 met ‘n breingewas wat epilesie veroorsaak het, gediagnoseer is.

Daar is steeds ‘n letsel bokant sy regteroor waar die gewas verwyder is.

Hoewel die dokters voorspel het dat Morné van vooraf sou moes leer loop en fynmotoriese bewegings aanleer, het hy byna dadelik herstel.

Morné Kuhn met die trofee vir die tweede plek wat hy op die Kampioen van Kampioene-hengelkompetisie gewen het.

Lees ook: 

Junior hengelaar van Secunda mik nou vir sy Protea-kleure

Exit mobile version