Junior hengelaar van Secunda mik nou vir sy Protea-kleure

Sy persoonlike rekord aantal vis wat hy op een dag gevang het, is 166 vis

SECUNDA – Morné Kuhn (17) mik om vanjaar sy Protea-kleure in hengel te verwerf.

Om dié prestasie van die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) te behaal, moet die hengelaar ten minste een keer ‘n lid wees van ‘n uitnodigingspan en dan van die A-span wat op die SAVOF-kampioenskap gekies word om op toer te gaan.

Morné kan ‘n aks op sy kerfstok by albei hierdie vereistes maak.

Hy is in 2017 vir die uitnodigingspan gekies en het verlede jaar die A-span gehaal.

Hy hengel in die juniors 0/19-afdeling en is ook verlede jaar as Mpumalanga Varswater Oewerhengel-vereniging se juniorkampioen aangewys.

Hy het ‘n besonderse vermoë om ‘n visstoklyn etlike meters ver, en boonop baie sekuur, te gooi.

Morné het verlede jaar by die kolgooi-kampioenskap by Die Anker-skool die rekordboeke herskryf met ‘n verwerp van 152,5m.

Hy is as die Victor Ludorum van die byeenkoms aangewys.

Morné spog met sy vangs van 35 vis wat gesamentlik 70kg geweeg het.

Dié boorling van Secunda is in die koshuis aan die Morgenzon Landbou-Akademie en het hier in sy graad 8-jaar by kompetisie-hengel betrokke geraak.

“Ek was nog altyd gaande oor hengel en toe ek hoor ons kan in skoolverband aan hengelkompetisies deelneem, was ek baie opgewonde, ” het hy vertel.

Morné kom uit ‘n “hengelhuis” waar sy ouers, Morné (snr) en Nicolene Kuhn albei op nasionale vlak hengel.

Hulle hengel almal onder die vaandels van die Standertonse hengelklub sodat hulle darem naweke hul seun kan sien.

Maar junior, of Faan (volgens hul bynaam vir hom) sit sy ouers ore aan langs die viswaters.

Dit is niks vreemd vir dié jong man om sakke vol vis per dag te vang nie.

Sy persoonlike rekord aantal vis wat hy op een dag gevang het, is 166 visse. Dit was met ‘n familie-uitstappie na die Westo-dam by Amsterdam.

Die swaarste vis wat hy al vasgekap het, was ‘n barber van 15kg.

Morné Kuhn met ’n 15kg barber wat hy uitgetrek het.

Morné vang gereeld sowat dubbel die hoeveelheid en gewig vis as sy teenstanders.

“Daar is al ‘n gesegde dat Faan so baie inkatrol omdat hy die agterste visse vang vanwee sy ver gooi,” het Kuhn snr vertel.

Morné glo tog dat kennis van die verskeie damme, en aas ‘n groot rol speel in die versekering van ‘n goeie vangs.

“Ek gebruik meestal slegs mieliebomme en degies.

“Natuurlik is die dip ook baie belangrik. Ek gebruik graag Sniper, Perdeby wat naeltjie-olie bevat of Devil’s Fork wat duiwelsdrek en amandel-ekstrak bevat.”

Morné leef vir sy hengel en die buitelug.

Hy mag nie kontaksport beoefen nie, omdat hy in 2016 met ‘n breingewas wat epilesie veroorsaak het, gediagnoseer is.

Daar is steeds ‘n letsel bokant sy regteroor waar die gewas verwyder is.

Hoewel die dokters voorspel het dat Morné van vooraf sou moes leer loop en fynmotoriese bewegings aanleer, het hy byna dadelik herstel. Hy kry steeds soms epileptiese episodes.

Dit hou hom egter geensins terug nie.

Morné is genooi om in die April- skoolvakansie aan die kampioen van kampioene-hengelbyeenkoms by Bloemhofdam deel te neem waar die beste junior, senior, meesters- en vroue-hengelaars byeen gaan kom.

Morné met van die 166 vis wat hy verlede jaar by die Westo-dam naby Amsterdam uitgetrek het.
Morné Kuhn van Secunda is verlede jaar as die junior kampioen van die Mpumalanga Varswater Oewer-hengelvereniging aangewys.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version