Manie van den Berg ontvang spesiale toekennings vanaf stoeifederasie

Oud-skeidsregter ryg toekennings in.

SECUNDA – Mnr. Manie van den Berg van Secunda Stoeiklub se bestuur, het op 30 Junie tydens die Suid-Afrikaanse Kadet-, Junior- en Seniorstoeikampioenskap op Newcastle ’n spesiale toekenning by die stoeifederasie gekry.

Hy het ’n dekplaat vir die Protea-spanbestuurder van die seniorspan ontvang, asook die Honoris Causa-toekenning vir 25 jaar se lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie se uitvoerende bestuur waarvan die laaste 22 jaar as sekretaris-generaal was.

Mnr. Van den Berg het die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie al by verskeie internasionale geleenthede verteenwoordig en was tot in 1995 ’n internasionale stoeiskeidsregter wat vir Suid-Afrika opgetree het tydens die Afrika Spele in Harare in 1995.

Hy het ook die Olimpiese Spele in 2000 in Sydney, Australië, die Olimpiese Spele in 2004 in Athene, Griekeland, die Olimpiese Spele in 2012 in London, Engeland en die Wêreld Seniorstoeikampioenskap in Uzbekistan bygewoon.

Hy was in 1998 in beheer van die Wêreld Kadetstoeikampioenskap in Pretoria en was in 1999 in beheer van die Afrika Spele in Johannesburg.

Mnr. Van den Berg was ook in 2005 in beheer van die Statebond Stoeikampioenskap in Stellenbosch, in 2006 van die Afrika Seniorstoeikampioenskap in Pretoria en in 2013 die Statebond Stoeikampioenskap in Johannesburg.

Hy het vanaf 2013 tot 2017 as die visie-president van die Afrika Stoeifederasie gedien en is steeds by Secunda Stoeiklub betrokke.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version