Avonturier van Secunda wil Everest weer volgende jaar klim

Man het al verskeie berge se pieke bereik en geniet fietsry en motorfietsry.

Stilsit is moeilik vir mnr. August Zerwick wat al twee keer Kilimanjaro uitgeklim het.

Een keer tot by die basiskamp van Everest en Kala Patthar wat op die suidelike rif van die Pumoriberg geleë is met ’n panoramiese uitsig op Everest, een keer die Merapiek wat deel van die Himalajabergreeks in Nepal is en een keer die Aconcaguapiek wat deel is van die Andesbergreeks in Argentenië in Suid-Amerika.

Mnr. Zerwick het dit as van die wonderlikste ondervindings in sy lewe beskryf om dié berge te klim en in die natuurskoon te wees.

Om tot by Everest se gevorderde basiskamp te klim, maar dié keer van Sjina en Tibet se kant af, is volgende op sy lys en hy beplan om dit volgende jaar te doen.

’n Mens moet fiks wees om dié berge uit te klim en jou toerusting sorgvuldig kies.

“Gewig speel ’n belangrike rol en weens die koue moes ons ses tot sewe lae klere dra,” het mnr. Zerwick gesê.

Hy het Kilimanjaro die tweede keer Alphine-styl geklim, wat beteken klimmers moet self kos maak en alles self dra. Hy het albei kere die Machame-roete gevolg toe hy Kilimanjaro geklim het.

Mnr. Zerwick het gesê die tweede keer was vir hom lekkerder omdat hulle dit in die Alphine-styl geklim het.

Hy het vertel hoe fyn hul beplanning moes wees om dié berg volgens die Alphine-styl te klim.

“Ons moes presies uitwerk hoeveel kos om saam te neem en ons moes ekstra onderdele vir die stofie saamdra vir ingeval iets breek.”

Die stofie is ’n baie belangrike item vir die bergklimtog, want dit word nie net gebruik om kos te maak nie, maar ook om sneeu vir water te smelt.

Die stofie word gemaak van ’n vliegtuiggraad allimunium en is dus baie lig, maar ook baie sterk.

Toe hulle die Mera-piek geklim het, het hulle op ’n rotslysie van net 2m breed geslaap langs ’n afgrond op ’n hoogte van 5 780m.

“Dit is nogal ’n vreemde gevoel om in jou slaapsak te lê met jou voete wat oor die rotslys steek en jy weet daar is ’n afgrond. Ek het nie eintlik veel geslaap nie en die sneeustortings was ook ’n bedreiging vir ons terwyl ons op die rotslys probeer slaap het.”

Mnr. Zerwick en sy vriende het eers vir ’n veiligheidskursus by Elandskloof naby Machadodorp gegaan om takelwerk behoorlik onder die knie te kry voordat hulle die meer ernstige en moeilike bergtogte aangepak het.

By dié kursusse het hulle geleer wat om te doen as een van hulle op die berg seerkry of hoe om iemand wat gly te help deur van toue en ander toerusting gebruik te maak.

Mnr. Zerwick het die bergklimtogte as ’n geestelike ondervinding beskryf en gesê: “Daar is ’n mens so afhanklik van die natuur en elemente dat ek God se skepping en genade intens ervaar het.”

Afgesien van sy bergklimtogte, is hy ook ’n kranige motorfietsryer en gaan binnekort ’n motorfietstoer na die Kaap onderneem waarna hy baie uitsien.

Hy geniet dit ook om fiets te ry en het ondermeer al 19 keer die Argus Fietstoer in die Kaap suksesvol voltooi.

As hy rustiger tye het, beoefen hy graag vlieghengel op Dullstroom en bou graag sy eie vliegies vir die hengel.

“Dit is heerlik om ’n vis te vang met jou eie vliegie,” het hy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version