Bethal se Springbok toer nou agter kleinkinders aan

Hoewel tennis haar groot liefde was, het Maud ook uitgeblink in gholf, korfbal, jukskei en atletiek.

Me. Maud Human het sedert sy kan onthou, tennis gespeel.

Sy het in ’n huis grootgeword waar albei haar ouers vir Noord-Transvaal liga gespeel het.

Hoewel tennis haar groot liefde was, het sy ook uitgeblink in gholf, korfbal, jukskei en atletiek.

Me. Human het haar Springbokkleure vir veterane in tennis verwerf, asook Oos-Transvaalkleure in gholf.

Sy was die eerste tennisspeler van Bethal wat nasionale kleure verwerf het.

As junior het sy haar junior kleure in jukskei en korfbal vir Noord-Transvaal verwerf.

Sy was 21 jaar oud toe sy vir die eerste keer die Bethal Tenniskampioenskap gewen het.

Dit het sy 25 jaar agtereenvolgens vermag.

In haar 26ste stryd om die kampioenskap, het me. Human in die eindronde teen haar 14-jarige dogter, Mari, gespeel.

Mari het haar ma daardie dag met 7-5 6-2 geklop.

“Ek was verskriklik trots op Mari, maar ons het mekaar geen genade op die tennisbaan betoon nie.”

Me. Human het op skool saam met die destydse Springbok, Annette van Zyl, destyds du Plooy, by Laerskool Generaal Jacques Pienaar in Pretoria afrigting by me. Human se ma gekry.

Haar ma het in haar matriekjaar aan die Hoërskool Langenhoven geld ingesamel sodat Du Plooy oorsee kon gaan tennis speel.

Me. Human het vir 40 jaar tennisafrigting op Bethal gegee en was ook bestuurslid van die Hoëveld Tennisvereniging.

Sy moes haar tennis opgee omdat sy probleme met die kraakbeen in haar voete ontwikkel het.

Hoewel sy nie meer lid van ’n klub is nie, speel sy graag so nou en dan gholf.

Tennis bly egter steeds haar groot liefde en sy is een van Roger Federer se grootste ondersteuners.

“As ek my lewe kon oorhê, sou ek weer platteland toe kom en weer alles doen soos ek gedoen het deur die jare.

“Ek sou eenvoudig niks anders wou hê nie.”

Me. Human het gesê dat dit wat sy op die sportveld bereik het, slegs met seëninge van bo en baie harde werk bereik is.

“As jy hard werk en alles insit, sal jy sukses behaal.”

Me. Human en haar man, Peet, vier later vanjaar hul 50ste huweliksherdenking.

Hulle spog ook met vyf kinders, Hannes, Grietjie, Frik, Mari en Maudie, asook 14 kleinkinders.

Deesdae reis die egpaar rond om hul kleinkinders op die sportveld te ondersteun.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version