Opwinding heers by skoolstryd

Die langverwagte wedstryde tussen Ligbron Akademie vir Tegnologie en Hoërskool Ermelo wat die afgelope Saterdag op die velde van Ligbron plaasgevind het, het vir opwinding soos min gesorg.

Die langverwagte wedstryde tussen Ligbron Akademie vir Tegnologie en Hoërskool Ermelo wat die afgelope Saterdag op die velde van Ligbron plaasgevind het, het vir opwinding soos min gesorg.
Die sportvelde was behoorlik ’n miernes van
bedrywigheid met groot getalle toeskouers wat hul onderskeie spanne geesdriftig aangemoedig het.
Op die rugbyveld kon Ligbron vir die tweede agtereenvolgende jaar daarin slaag om in agt uit nege wedstryde teen EHS die oorhand te kry.
Ligbron se John Wright Veneers eerste span het ’n opwindende wedstryd met 13 – 0 gewen.
Die Liggies se buitesenter, Nthokozisi Hlubi, het ’n pragdrie in die eerste helfte gedruk nadat hy ’n goedgeplaaste skop van losskakel Muller Joubert opgevolg het en die bal vir hom reg gespring het.
Ná ’n blitsige agterlynbeweging waarin die bal vinnig van hande verwissel het, het Ruan Viljoen in die tweede helfte die Liggies se tweede drie gedruk. Carl Jacobsz het met ’n strafskop geslaag om die telling op 13 te staan te bring.
Die uitslag van die wedstryd was tot ná aan die einde in die weegskaal met die Erries wat knaend op die aanval was. Hulle sal egter terugkyk op ’n wedstryd van verspeelde kanse, veral toe hulle naby Ligbron se doellyn was.
Die eindfluitjie het geblaas met die Erries wat etlike minute lank op die aanval was. Ligbron se rotsvaste verdediging het egter sake vir die Erries verder bemoeilik.
Die 0/14- en die 0/15-wedstryd was ook tot en met die laaste minute in die weegskaal en in albei gevalle het die Liggies daarin geslaag om ’n drie te druk kort voordat die eindfluitjie geblaas het.
Ligbron se 0/16A-span het ’n opskudding veroorsaak deur die Erries, wat die gunsteling was, met ’n telling van 15 – 7 te klop. Armand Helmuth, flank, en Tertius Lind, haker, het elk ’n drie gedruk, en Marnus Scheepers het vyf punte met sy skopskoen aangeteken.
Die B-spanne van die Liggies het op die dag oorheers en vir goeie tellings gesorg. Die Erries se tweede span was die enigste span wat Ligbron kon klop. Die telling was 23 – 19. Die wedstryde het gewys dat die dorp oor ’n diep poel van rugbytalent beskik en daar word met afwagting na die toekoms van verkeie uitblinkers van albei skole gekyk.
Die uitslae is soos volg: 0/14A: Ligbron 10 – EHS 7; 0/14B: Ligbron 44 – EHS 0; 0/15A: Ligbron 22 – EHS 19; 0/15B: Ligbron 61 –EHS 0; 0/16A: Ligbron15 – EHS 7; 0/16B: Ligbron 24 – EHS 5; derdes: Ligbron 51 – EHS 0; tweedes: Ligbron 19 – EHS 23; eerstes: Ligbron13 – EHS 0. Die Liggies speel eerskomende Saterdag teen Standerton in hul laaste groep-wedstryd op Ligbron se velde. EHS sal op hul tuisveld teen Volksrust kragte meet.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version