Sasol behaal sege oor Standerton

Standerton kon op tye net nie afrond nie en het verskeie kanse daardeur verbrou.

STANDERTON – Sasol Rugbyklub het op 16 April ‘n sege oor Standerton se eerste- en tweedespan behaal.

Die eerstespan van Standerton sal dié wedstryd, waar Sasol 68 punte teenoor hul agt punte aangeteken het, gou wil vergeet.

Mnr. Jakes Coetzee, voorsitter van die Standerton Rugbyklub, het volgehou dat die klub in ‘n groeifase is.

“Ons het nie met die maklikste van wedstryde begin nie, maar ons kan nie nou tou opgooi nie, ons moet gemotiveerd bly.

“Verdediging was ons ondergang en te veel gapings in die verdedigingslinie het ons duur te staan gekom.

“Ons sukkel met verskeie beserings wat ‘n groot verskil aan enige span maak.”

Voorspeler van die wedstryd: JP Lange, posisie: vasskopstut, uitnemende skrumwerk en verdediging.

Agterspeler van die wedstryd: Brendan Coetzee, posisie: losskakel, vinnige verspreiding van die bal en goeie verdediging.

Krukkelys: Hendrik Coetzee, spierbesering.

Die Sasolspan het die tweedes met 12-7 geklop.

Standerton kon op tye net nie afrond nie en het verskeie kanse daardeur verbrou.

Voorspeler van die wedstryd: Jandré Kasselman, posisie: haker, goeie dryflopies en sterk op verdediging.

Agterspeler van die wedstryd: JP Goosen, posisie: skrumskakel, goeie aanval en verdediging.

Krukkelys: Morné Beneke, moontlike harsingskudding.

Standerton kom op 3 Mei teen Kriel te staan.

Vir meer inligting skakel mnr. Jakes Coetzee by 071 120 5918.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version