Standerton buig die knie

“Met verskeie spelers wat beseer is, dink ek ons het ons man gestaan.”

In ’n naelbytwedstryd die afgelope naweek, moes Standerton se eerste rugbyspan die knie met 26-16 teen Groblersdal buig.

Die voorry van Groblersdal het duidelik gedurende die eerstehelfte die oorhand in die vasteskrums gehad wat die platform vir hul agterspelers geskep het om aan te val.

Groblersdal het egter vroeg in die wedstryd verskeie strafskoppe afgestaan wat Standerton se binnesenter, Tyrone Pienaar, in staat gestel het om die bal deur die latte te jaag.

Standerton se verdediging het hul met tye in die steek gelaat.

Hul teenstanders het weens die opskietverdediging, gapings in die verdedigingslinie gevind.

Standerton was ook stadig om by die losgemale skoon te maak, waar die meeste balbesit verloor is.

Toe die fluitjie vir rustyd blaas, het spelers ’n blaaskans gekry en daar is hard gepraat.

In die tweedehelfte het dit gelyk of ’n ander Standertonspan uitgedraf het.

Die skrums was meer gebalanseerd en druk is by die losgemale toegepas om balbesit om te keer.

Daar was veral ’n paar goeie lopies deur Pienaar en Skolla Pieters (senterpaar).

Standerton het die wedstryd gejaag toe hul stut, PG Byleveld, met ’n skitter fopaangee sy man geklop het om die doellyn oor te steek.

Standerton het met mening terugbaklei en wanneer strafskoppe afgestaan is, het Pienaar verseker dat Groblersdal daarvoor boet.

In die doodsnikke van die wedstryd het Groblersdal kort na mekaar punte aangeteken, sonder antwoord van Standerton.

Mnr. Jakes Coetzee, voorsitter van die klub, het gesê: “Ons het regtig nie sleg gevaar nie.”

“Soos ek verlede week gesê het, groei ons klub nog en ons het nie van die maklikste wedstryde gehad om mee te begin nie.

“Met verskeie spelers wat beseer is, dink ek ons het ons man gestaan.”

Voorspeler van die wedstryd: PG Byleveld, posisie: stut, goeie dryflopies en skitterende fopaangee om doelyn oor te steek.

Agterspeler van die wedstryd: Tyrone Pienaar, posisie: binnesenter, goeie verdediging en uitstekende stelskopwerk.

Krukkelys: PG Byleveld (spierspasma), Tyrone Pienaar (kuitbesering)

Standerton speel volgende naweek teen die Witbank Hurricanes.

Vir meer inligting skakel mnr. Coetzee by 076 474 9264.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version