Ermelo-eerstes val vas

Speeltoestande vir al die spanne sowel as die skeidsregters was aansienlik bemoeilik.

Ermelo Rugbyklub se eerste span het Vrydagaand in hul wedstryd teen Bethal Rugbyklub vasgeval en met 5 – 12 verloor.

Die Bethallers het vroeg in die eerste helfte ’n drie gedruk en die Ermeloërs aanvanklik op die agtervoet geplaas.

Daarna het ’n klipharde wedstryd gevolg waarin nie een van die spanne wou bes gee nie.

Ermelo het daarin geslaag om ’n drie in die tweede helfte te druk waarna Bethal ’n doel aangeteken het om die wedstryd in hul guns te beklink.

Ermelo se tweede span het egter die Bethallers met doelgerigte spel afgeransel en hul wedstryd met 55-0 gewen.

Praglopies deur Ermelo se agterlyn asook stormlopies deur die voorspelers het die drieë met reëlmaat op die telbord laat verskyn wat die Bethallers by tye moedeloos gehad het.

Dit dien gemeld te word dat albei wedstryde op die C-veld gespeel is waar die beligting van die spreiligte nie na wense is nie.

Dit het speeltoestande vir al die spanne sowel as die skeidsregters aansienlik bemoeilik.

Vir die eerstes is Arnold Pretorius en Joe Pretorius as spelers van die wedstryd gekies terwyl Willem du Plooy en Sipho Ngobese die tweedes se spelers van die wedstryd was.

Die volgende wedstryde vind op 3 Mei by die AJ Swanepoelstadion plaas.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version