BlogsOpinion

2020 nóú in die truspieël

Dit is geen geheim dat die meerderheid van ons taamlik keelvol is vir die virus en ook die gepaardgaande regulasies, om nie eens te praat van die blatante korrupsie, verpolitisering van die virus en les bes, die magsbeheptheid wat in sekere kringe kopuit steek nie.

As ons in die truspieël terugkyk na 2020, was dit ’n jaar met vele uitdagings, ’n jaar waarin talle mense swaar tye beleef het, ’n jaar wat baie mense verkieslik nou agter hulle sal wil sit.

Of jy nou die Covid-19 statistieke betwis of nie, dié virus het ongetwyfeld ’n enorme impak op die normale funksionering van mense, ondernemings en wêreldwye ekonomieë.

Die hartseer van die saak is, dat hoewel 2020 uiteindelik sy plek in die geskiedenisboeke ingeneem het, die virus egter 2021 saam met ons betree het.
Vir baie is daar die versugting dat ’n nuwe jaar aan ’n nuwe en beter jy gekenmerk word, maar meeste van ons hoop om nie die slagoffers van die nuwe variant van Covid-19 te word nie.

Hoe dit ook sy, ons kan kies hoe ons die nuwe jaar wil aandurf – dalk beskou jy dit as ’n uitgebreide 2020 of miskien is jy ietwat meer optimisties en glo dat die jaar met nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede gevul sal wees.

Dit is geen geheim dat die meerderheid van ons taamlik keelvol is vir die virus en ook die gepaardgaande regulasies, om nie eens te praat van die blatante korrupsie, verpolitisering van die virus en les bes, die magsbeheptheid wat in sekere kringe kopuit steek nie.

Ek het byvoorbeeld teen minister Cele se aanbeveling om Oujaarsaand teen 9nm in die bed te wees, gerebelleer, bloot 8nm my bed gaan opsoek – hoewel ek dit moeilik gevind het om skuins te lê met die “bomme” en “bliksems” wat my orent laat sit het.

Ek is nog nie op die preekstoel losgelaat nie en ons is tot satwordens toe moeg vir Covid-19 praatjies, maar ek wil pleit by mense om sosiale distansiëring te handhaaf, getrou jou masker te dra – trek dit gerus oor die neus ook, en kom ons beskerm die kwesbares, wat dalk nie ’n geharde immuniteitstelsel het nie.

Beperk jou besoeke aan familielede – indien enigsings moontlik, beplan besoeke aan inkopiesentrums deeglik en wees vriendelik, dog ferm met wetsoortreders, wat ander se lewens deur hul onverantwoordelike optrede in gevaar stel.

My wens vir jou as leser en adverteerder is dat jy vanjaar net voorspoed sal ondervind, dat jy in jouself groei sal ervaar, dat jou besigheidsake geseënd sal wees, dat jy mense en mense jou goedgesind sal wees en laastens, dat jy met goeie gesondheid en ’n gesonde verstand 2021 sal aanpak.

Voorspoed vir die nuwe jaar!

Related Articles

Back to top button