KERSBOODSKAP: Wonder jy wat Jesus vir Sy “verjaarsdag” wil hê?

Daar is dalk niks beter wat ons vir Jesus op hierdie “verjaarsdag” kan gee as om uit te reik en praktiese liefde te betoon aan al die mense om ons vir wie Hy lief is nie. Basies: om Hom en Sy hart met hulle te deel.

Daar is deesdae ‘n interessante verjaarsdag-gier onder filmsterre en bekendes te sien… Baie van hulle besluit om vriende en aanhangers voor te spring wat geskenke wil aandra – en om eerder ’n boodskap uit te stuur, wat so iets lyk:

As jy vir my ’n verjaarsdaggeskenk wil gee… skenk asseblief geld aan _____________ (een of ander liefdadigheid of organisasie waaroor die bekende passievol is).

Hulle moedig mense dus aan om hulle “omgee” te wys deur in te koop by iets waarvoor hulle ’n liefde en passie het; deur deel te neem aan ’n missie waarby hulle betrokke is…

Wat het hierdie met Kersfees te doen? As ’n jong kind vir ons vra waaroor Kersfees gaan, sê ons maklik vir hulle: “Kersfees is wanneer ons Jesus se verjaarsdag vier!”

Sommige grootmense skop dalk teen so ’n verduideliking, want “Kersfees is darem so ryk aan ander betekenis… en ons het iewers uitgevind dat Jesus waarskynlik nie in Desember gebore is nie.”

Ek dink nog steeds enige tyd van die jaar is ’n goeie tyd om Jesus en Sy “verjaarsdag” te vier.

Wat is ’n verjaarsdag dan nou anders as ’n blye herdenking en viering van iemand se lewe? ’n Viering van iemand wat een of ander tyd gebore is – en wat nóg ’n jaar geleef het…? As dít ’n verjaarsdag is, dan kan élke jaar mos ’n herinnering wees dat Jesus inderdaad lank gelede op hierdie aarde gebore is… en dat Hy elke jaar vir ewig sal aanhou lewe!

So … as jy wonder wat om hierdie jaar vir Jesus vir Sy “verjaarsdag” te gee… hoekom nie ’n tip vang by die bekendes en moeite doen met iets waarvoor Hy ’n liefde en passie het nie? Hoekom nie deelneem aan Sy missie nie?

Sy passie en missie gaan natuurlik oor mense! Die mense rondom jou – die wat jy ken en onbekendes. God het die wêreld so lief gehad, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê – Joh 3:16.

Daar is dalk niks beter wat ons vir Jesus op hierdie “verjaarsdag” kan gee as om uit te reik en praktiese liefde te betoon aan al die mense om ons vir wie Hy lief is nie. Basies: om Hom en Sy hart met hulle te deel.

Daarom wil ek jou aanmoedig in hierdie Kerstyd: hou jou oë oop vir geleenthede. Hou jou hande oop om te ontvang, maar veral om te gee. Maak jou hart oop vir die Here en alles wat Hy in en om en deur jou wil doen.

Doen vir een wat jy wens jy vir almal kan doen. Ek voel altyd mense is net so bietjie meer ontvanklik vir Jesus die tyd van die jaar… so as Hy in jou leef – leef Hom uit!

Deur: Ds. Lizari Dippenaar

Exit mobile version