LettersOpinion

BRIEF – Vroue Landbou-unie (VLU) Vaalrivier eer Levy Daniel

Levy het op 25 Februarie 1950 in die huwelik met Paul Daniel getree en in Maart dieselfde jaar, pas terug van wittebrood, het haar skoonma haar na die VLU geneem en sy het dadelik lid geword.

Die Vroue Landbou-unie (VLU) Vaalrivier se erelid, Levy Daniel, het op 7 Januarie in haar slaap, in die ouderdom van 95 jaar, gesterf.

Vaalrivier-tak betreur haar afsterwe en namens die tak is medelye oorgedra aan haar kinders, kleinkinders, agterkleinkind, familie en vriende.

Sy het in Maart verlede jaar haar 67ste jaar as lid van die VLU as ’n getroue en waardevolle lid gevier.

Haar afsterwe laat ’n groot leemte in hul midde.

Levy het op 25 Februarie 1950 in die huwelik met Paul Daniel getree en in Maart dieselfde jaar, pas terug van wittebrood, het haar skoonma haar na die VLU geneem en sy het dadelik lid geword.

Levy was ’n bedrywige vrou.

Behalwe ’n aktiewe VLU-lid, het sy wyd betrokke in die gemeenskap van Standerton geraak.

Sy het gedien op die Kosmos Aftree-oord se bestuur, op die Standerton TB Hospitaal se bestuur, was voorsitter van die beheerraad by van die plaaslike skole, aan die Rotary Anns behoort, sowel as op die bestuur van die Metodiste Kerk gedien.

Sy en Paul het drie kinders grootgemaak, ’n dogter Denise, wat in Australië woonagtig is, dogter Rozanne, wat in Nieu-Seeland bly, en haar seun Peter wat op Standerton woonagtig is.

Peter is ’n bekende, afgetrede apteker wat vir baie jare die gemeenskap bygestaan het met waardevolle raad en die nodige medikasie.

Vir Vaalriviertak was dit ’n groot voorreg om Levy as lid te hê, veral omdat sy ten spyte van haar ouderdom, tot sowat twee jaar gelede die maandelikse vergaderings getrou bygewoon het.

Sy was vir almal in die tak ’n voorbeeld om na te streef.

Haar motto was dat jy klaarmaak wat jy aangepak het en sy het ’n baie spesiale plekkie in die tak, sowel as in elke lid, se hart gehad.

Haar volgehoue bydrae tot die bedrywighede van die tak was voorwaar ’n mylpaal.

Levy, VLU Vaalrivier salueer jou en ons sal altyd met respek terugdink aan jou as ’n ware en opregte VLU-vrou.

Anneline Smith, skakelbeampte, VLU Vaalrivier

Related Articles

Back to top button