Nou verstaan ek ook hoe dit voel om ’n trotse pa te wees

Ek het saans van óf take-aways óf Doritos vir aandete geleef.

Voordat ek pa geword het, het ek altyd my oë gerol vir al die ouers se Facebook-inskrywings oor hoe oulik hul bloedjies is.

Verlede week was hel vir my en my vrou, Theressa.

Thomas-Jay, ons baba seuntjie, het erge gastro gehad en ons het Saterdag, omstreeks 11nm, met hom deurgejaag na Mediclinic Highveld in Trichardt.

Sy ogies op skrefies, ingesonke weens dehidrasie en sy gesiggie spierwit.

Op pad soontoe het hy verskriklik opgegooi en die atmosfeer in die bakkie was tasbaar.

Vir ’n week lank was hy op ’n drup met my ystervrou, Theressa, wat daagliks sit, slaap, huil en bid langs sy hospitaalbed.

Daar was net een bed, en ek moes alleen huis toe.

Heel week het ek honderde kilometers tussen Standerton en Secunda afgelê, danksy die beste streeksbestuurder, Janett Zaayman.

Ek het saans van óf take-aways óf Doritos vir aandete geleef.

As ek by die huis gekom het in die aande, kon ek nie anders as om bewoë, by sy kleurvolle kot langs ons bed, stil te staan en hom met alles in my te mis en vir hom te bid nie.

Ek het elke aand ingekruip, maar die bed was koud en leeg.

Ek het Theressa se kussings gevou, so al om die voue van haar lyf te probeer namaak, want ek het haar óók gemis.

Vrydagmiddag het ek die oproep gekry waarvoor ek heel week gewag het, ek kon hulle gaan haal en huis toe bring!

Sondag het die mannetjie, op slegs drie maande oud, besluit hy begin tande “kweek” en ons was beangs oor ons dié klein liggaampie, nog nie 100% nie, terug skool toe moes vat.

Dit is ’n voltydse werk, MAAR, toe ons hom Maandag by sy skooltjie opgetel het, het hy saam met hom, sy eerste sertifikaat huis toe gebring.

Dis toe dat ek besef het hoe dit voel om ’n trotse pa te wees.

Ek en Theressa het net onlangs gesels oor hoe mens kan voorkom dat jou kind ’n bedorwe brokkie word weens te veel bederf.

Die Engelse uitdrukking het my bygeval: “Love never spoils children, children become spoiled when we substitute presents for presence.”

Exit mobile version