Boerseunredakteur besoek Bali

Ek het vir Theressa gesê ek sal nie weer ’n ‘tenderloin’-steak eet nie en so bietjie ander kosse ook ’n kans gee, so vanaand is dit ek en ’n ‘sirloin’-steak.

Goeiedag, vanuit Bali.

Dit is omstreeks 5.33vm en ons het nou net drie keer opgestaan, drie keer, want elke keer as ek dink ek sit my voete op die grond neer, het ek besef dis ’n ‘king size’-bed en dat ek nog so entjie handeviervoet moes kruip om tot by die bed se rand uit te kom.

Die vlug was aaklig, dit het gevoel of ek dae aaneen vlieg – jy draai vir ure links, dan regs, rol saam die vliegtuig se bewegings en selfs ure na ons geland het, draai alles nog.

Op Bali se lughawe omstreeks 4.30nm geland en die son het begin sak, hoewel jou kop sê dit moet nou oggend wees.

Die klimaat is min of meer soos dié van Nelspruit, maar die lug is klam en jy voel die heeltyd taai.

In die kamer het die lugversorger geblaas en as jy uitstap, het jy in ’n oond ingeloop – wil nie weet hoe dit hier teen 12uur vanmiddag gaan bak nie.

Het die lekkerste steak en tjips geeët, weet ek’t gesê ek wil myself in die Bali-kultuur inleef, maar wragtig, as jy moeg en vlugvoos is, het jy nie lus vir volksvreemde kos nie.

Was ook nie die verkeerde besluit nie, want dit was die lekkerste steak wat ek nóg geeët het, oftewel ek hoop dit was steak…

Uiteindelik was ek van die vlugbabelaas ontslae en kon begin akklimatiseer.

Wetenskaplikes sê die mens pas baie vinnig by sy omgewing aan, so daar waar koelte was, het ek aangepas.

Vanoggend is ons op ’n boot onderweg na Lembongan Eiland, al 108 van ons!

Na sowat ’n uur en ’n half op die onstuimige see, was daar so effe ’n demper op die gemoedere en verskeie mense het ’n gedaanteverwisseling ondergaan met gesigte wat óf baie wit, óf groen, was.

Die eiland, wat klein op die horison vertoon het, het mettertyd begin groter raak, want self ek was besig met ‘n metamorfose.

Ons was met kristalhelderwater omring en was met heerlike verversings begroet toe ons aan wal geland het.

Na ons lafenis onder koeltebome en swembaddens gevind het, het ons agter op ’n ‘no-name-brand’-trokkie, die nou strate van die dorp ingevaar.

Daar het ons geleer dat bromponiehandelaars op die eiland ’n ‘killing’ maak en bromponies ook ’n ‘killing’ kan maak as jy nie links of regs kyk nie.

Ons is nou weer terug by die hoofeiland op Bali en maak reg om te gaan eet.

Ek het vir Theressa gesê ek sal nie weer ’n ‘tenderloin’-steak eet nie en so bietjie ander kosse ook ’n kans gee, so vanaand is dit ek en ’n ‘sirloin’-steak.

Exit mobile version