BlogsEditor's noteOpinion

As die doodsengel jou jaag, moet jy hol

My kuite trek op ’n knop, stywer as ’n rot wat gif gevreet het.

Nodeloos om te sê het ek gesukkel om die knoppies op my mobiele-handstuk se skerm raak te druk soos ek dié inskrywing nou die dag op Facebook maak, sekerlik weens die geweldige skok waardeur ek my liggaam gesit het.

Ek het my eerste 1km na nege jaar se slegwees, gedraf…

My ledemate bewe, spring en dans ongesinchroniseerd elk op sy eie ritme.

My kuite trek op ’n knop, stywer as ’n rot wat gif gevreet het.

Ek proe die násmaak van roes hier diep agter in my keel en dis so al of my nikotienlonge vir my sê: “Nou raak ons van alles ontslae wat nie suurstof is nie.”

My hart gaan wild tekere hier in my bors en ek’s oortuig hy pomp nou gans te veel bloed deur.

My oë is bloedbelope, oftewel, dit lyk van die binnekant af buite toe of dit die geval kan wees.

Dankie tog ek dra nie kontaklense nie want dié sal teen nou al óf gesmelt óf toegewasem het so warm kry ek!

Alles voel naalde en spelde, maar ek begin weer stelselmatig my asem terugkry.

Nou ja, dit was net die opwarmingsessie, die 1km wat ek gedraf het was nóg erger.

As ek weekliks so na die foto’s van die nuwe ‘parkrun’-inisiatief kyk en die meer “senior”-atlete bestudeer, kry ek darem bitter skaam vir hoe sleg ek geraak het.

Só sukkel ek tydens my eerste 1km na nege jaar se slegwees.

’n Mens is mos maar geneig om ’n verskoning gereed te hê vir hoekom jy nie kan oefen nie, my knieë kan nie die impak op die teer hanteer nie, ek is moeg na ’n lang dag se werk óf dalk is dit daai polsende kopseer wat net nie wil breek nie.

Ek moet myself ook gedurig oortuig dat die doodsengel my jaag, anders stap ek tydens die drafroete terwyl ek teug aan ’n “skyf ” tussen my geelgevlekte nikotienvingers om “asem” te probeer kry.

So paar jaar gelede kon ek lag-lag ’n 10km kafdraf en het ek selfs die ’n 21km in Nelspruit, langs die Sappi Papierfabriek verby, in Elandsvallei voltooi.

Wie weet, dalk vind ek binnekort inspirasie uit die ‘parkrun’-foto’s en sluit ek by die ooms en tannies aan wat my weekliks in die skande steek.

As jy dalk ook soos ek die wilskrag verloor het om daagliks te oefen, herinner jouself dat jou gesondheid werklik die enigste ding is wat jy in dié lewe het en dat die doodsengel gedurig kyk hoe naby hy is sodat hy sy silwer sekel kan swaai – só hol!

Related Articles

Back to top button