BlogsOpinion

Ek het niks verkeerd gedoen nie

Die vasberade “ek het niks verkeerd gedoen nie” sal Suid-Afrikaners nog lank bybly. President Jacob Zuma was geensins in vertwyfeling oor sy aandeel aan dinge wat lelik begin skeef loop het nie. Die onwillekeurige herinnering aan ’n vorige president en die party se eierdans sal in die geskiedenisboeke weerklank vind. Die politieke organisasie se reputasie …

Die vasberade “ek het niks verkeerd gedoen nie” sal Suid-Afrikaners nog lank bybly.

President Jacob Zuma was geensins in vertwyfeling oor sy aandeel aan dinge wat lelik begin skeef loop het nie.

Die onwillekeurige herinnering aan ’n vorige president en die party se eierdans sal in die geskiedenisboeke weerklank vind.

Die politieke organisasie se reputasie moet ten alle koste beskerm word en dit is selfs moontlik dat politieke partye, in die naam van landsbelang, glo die doel heilig die middel.

Patricia de Lille, vuurvreterburgemeester van Kaapstad, wat die destydse wapenskandaal aan die groot klok gehang het, en die uitgesproke Helen Zille, wat met twiets die kolonialismedebat lewendig gehou het, is geen vreemdelinge vir partyprosedures nie.

Om te analiseer wat reg en verkeerd vir verskillende ampsdraers en mense beteken, sal in ’n hof uitgeklaar moet word waar die regter of landdros die toets van die redelike mens se denkwyse en optrede sal gebruik om die oordeel te vel.

Is dit onredelik om te verwag dat politici, waarvoor ’n kruisie getrek is, jou belange sal beskerm en nie oorhoops gaan met die blinde verering van die party nie?

Die DA bloei en die ANC kan moontlik skeur is die gevaarlike terrein waarop jy jou begeef wanneer die 2019-verkiesing in gedagte gehou word.

’n Mens verstaan sommer waarom sekere kandidate, veral in die VSA, hulle as ‘onafhanklik’ op die podium waag en die gevestigde partymasjinerie en geldkoffers versaak.

Terug op eie bodem weerspieël die wipplankryery van ons geldeenheid die onsekerheid, twyfel en vertroue van beleggers en die sakelui.

Om nie eens te praat van die brandstofpryse wat gereeld diegene op moedverloor se vlakte laat wonder of die televisie-advertensies oor nuwe motors nie moontlik geskik is vir ander homo sapiens nie?

Wat van ’n regmakertjie nou?

Related Articles

Back to top button