Wees gegroet en loop mooi

Vir vier geslagte lank is ons hier “geskool” vir die lewe.

En so groet ons vir oulaas, saam met ons liefste ou moedertjie, Baby Lotter.

Nie met ‘n windmakerige veer in die hoed nie, maar met ‘n seer-soet glimlag van ons gaan, nie omdat ons wil nie, maar omdat ons moet.

Huis toe gaan“ hometown” sal altyd vir my sinoniem met Standerton wees.

Vir vier geslagte lank is ons hier “geskool” vir die lewe.

Het ons hier geleer van loop en val, opstaan en weer probeer.

Het ons hier kalwerliefdes, eersteliefdes en altydliefdes leer ken.

Het ons die vreugdes van geboortes en die stukkende verskeurdheid van die dood leer verstaan.

Ons het hier ondervind en geleer hoe dit is om in lief en leed deur ‘n nouverweefde, omgeegemeenskap se hande en harte gedra te word.

Dankie Standerton, ‘n dorp is sy mense, ek sal altyd met groot waardering en nostalgie deur ons “boek” hier geskryf, terugblaai en weet my “roots“ lê diep en stewig geanker in jou goeie, vrugbare grond.

Die roep van ‘n tarentaal en die raas van een-been kiewiete wat hul neste en kroos so vreesloos beskerm, sal altyd die “Standerton-song” in my hart wees.

Wees gegroet en loop mooi.

Maryna Maritz en familie.

Exit mobile version