Opinion

Om ‘n kind lewendig te verloor

Om ’n kind aan die dood af te staan, is een van die mees traumatiese en hartseer gebeure wat ’n ouer kan ervaar. ’n Mens kan nie saampraat as jy dit nie self daardeur was nie.

Om ’n kind aan die dood af te staan, is een van die mees traumatiese en hartseer gebeure wat ’n ouer kan ervaar.

’n Mens kan nie saampraat as jy dit nie self daardeur was nie.

Dit is twee clichés wat ons hier by die koerant al te dikwels hoor. Clichés mag hulle wel wees, maar vir die betrokke ouers is dit nie net baie erg nie, maar ook baie eg. Deur God se genade is ek dit tot dusver gespaar, so, ja, ek kan nie saampraat nie.

Dit is eers wanneer ’n mens te doen kry met ouers wat kinders “lewendig” verloor het dat die gevoel van hulpeloosheid werklik by mens posvat.

Die begrip “lewendig verloor” is makliker om te verstaan as mens eers die omvang van die dwelmprobleem in ons dorp begryp het.

Die dwelmmonster, wat vet gevoer word deur dwelmsmouse, het reeds talle kinders en jong mense van ons dorp in sy vieslike, genadelose greep van verslawing vasgevang.

Die dwelmsmouse is gewetenlose, geld-honger en gesiglose mense. Hulle gee nie ’n duit om of die ouers, kinders, familie of vriende ’n lewe van hel op aarde moet deurmaak nie. Solank die geld net inkom, is hulle gelukkig.

Die dwelmmonster ontsien niemand nie en het ook geen voorkeure nie. Pragtige kinders wat uit goeie huise kom, ryk, arm of middelmatig, almal is potensiële prooi vir dié verwoester van lewens.

Hy draai kinders teen ouers, ouers teen kinders en ouers teen mekaar. Hy veroorsaak hewige rusie in huishoudings en verander oulike kinders wat eens vol potensiaal was, in leuenaars, diewe en misdadigers.

Die verwydering tussen ouer en kind, broers en susters is hartverskeurend.

“Pa gun my niks in die lewe nie!” “Ma is altyd op my case!” “Julle vind altyd fout met my vriende!” “Boetie/sussie is mos ma en pa se witbroodjie!”

Dié woorde is al duisende keer as laaste skoot deur dwelmverslaafdes geuiter in ’n stryery met ouers. En dit maak die ouers bitter seer.

Die gebroke en seer hart van ’n ouer wat ’n kind lewendig verloor het, vul ’n mens met ’n gevoel van hulpeloosheid. Jy kry hulle bitter jammer, maar wat kan jy doen om te help? Hulle kan nie saam praat met ’n ouer wat ’n kind aan die dood afgestaan het nie, want hulle kind leef nog… êrens.

In baie gevalle neem dit soms jare voordat die kind tot sy of haar sinne geruk word en dit regkry om die verslawing af te skud. Maar in die meeste gevalle is dit reeds te laat. Gesinne is uitmekaar geruk of ouers is geldelik uitgeroei, afgerem en doodmoeg vir die lewe. In ander gevalle is dit heeltemal te laat vir die ouers en dán eers kan hul saampraat met ouers wat kinders aan die dood afgestaan het.

Daarom moet ons almal, veral ons wat dit nog nie oorgekom het nie, saamstaan en die polisie die dank en erkenning gee wat hul toekom. Ja, daar is nog polisielede wat bereid is om die geldgierige dwelmbase en hul lakeie, die gewetenlose smouse wat ons dorp so vervuil, aan te vat en aan die pen te laat ry. Dit is ons plig om hulle van elke stukkie inligting waaroor ons mag beskik, te voorsien. Ons moet die polisie met inligting bewapen sodat hul die nodige skietgoed sal hê om die laaste dwelmsmous uit ons samelewing te verwyder.

Maar bowenal moet ons vir die ouers bid wat tans met die dwelm-monster in ’n stryd gewikkel is, dat deur die Here se genade hulle hul “dooie” kinders vinnig weer lewend sal terugkry.

Related Articles

Back to top button