Dwelms nie die oplossing nie

Vermy die kwaad, ontdek die goed.

Danette Bruwer, Ermelo:

“Die inname van drank en dwelms voel so goed,” dink Annemarie by haarself.

Misbruik van dié middels word as sonde beskou, maar tog beskerm dit haar teen fisieke en emosionele druk. Tydens onheilsure dra sy die sonde soos ’n swart kleed en niemand kan haar oorreed om daarvan ontslae te raak nie.

Ons lewe in ’n wêreld wat polities, ekonomies, sosiaal en tegnologies is en ons as individue swig soms onder die druk wanneer ons voor die intimiderende aangesig van dié vier faktore te staan kom. Soos ’n graadeentjie wat gereedmaak vir sy eerste dag van skool en na sy moeder se hand gryp en haar smeek om hom nie te laat gaan nie, só gryp ons na hulpmiddels soos drank en dwelms wat hopelik as ’n oplossing dien teen die druk.

Soos die troostende arms van ’n moeder die graadeentjie omhels, hom kalmeer en hom belowe dat alles goed sal uitdraai, laat sy hom tog op die ou end skool toe gaan en word ’n warboel van die genoemde emosies ervaar; só is dit ook met drank en dwelms. Dit laat jou slegs vir ’n kort tydperk goed voel, maar daarna word jy in die diep kant van omstandighede ingegooi!

Jy begin meer en meer na die “drukverligtingsmiddels” gryp en word verslaaf daaraan. Jou karakter word negatief beïnvloed. Naderhand is jou karakter so afskuwelik dat nie eens maskers dit meer kan verberg nie.

Annemarie trek haar erekleur-bedekte baadjie aan, probeer die gedagtes van die vorige aand vermy en glimlaggend stap sy die skool binne. Niemand sien die verskuilde swart kleed raak nie, min wetende “karakter is wat jy in die donker is”. (Dwight L Moodie)

Kernboodskap: Vermy die kwaad, ontdek die goed.

Ontsnap van Satan se kloue en vlug na die wagtende oop arms van God wat ’n kuur sonder enige newe -effekte vir jou probleem bied.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version