Famsa fokus op die Sadies vir Huweliksweek

Paartjie glo humor, lag en om tyd saam te bestee is belangrik in die huwelik.

As deel van Famsa se vieringe vir Huweliksweek wat in September plaasgevind het, val die fokus op die laaste paartjie vir maand, Jaco en Ronél Sadie.

Dié paartjie is al 32 jaar getroud en ken mekaar reeds van hul laerskooldae af.

Hulle was later ook in dieselfde hoërskool en het in hul gr.12-jaar baie begin gesels in die wiskunde-klas.

“Hoewel ek nou nie eintlik ’n stêr-student in wiskunde was nie, het Jaco my gevra om hom met wiskunde te help,” het Ronél vertel.

“Dit is nou dieselfde ou wat destyds ’n onderskeiding vir wiskunde gekry het.

“Ek dink hy was op die ou einde van die dag nie net slim met wiskunde nie, maar ook met vrou vang.”

Ronél het vertel dat dié huweliksbootjie egter byna nie die hawe verlaat het nie omdat sy weens ’n misverstand destyds saam met ’n vriend van Jaco na die matriekafskeid toe is en nie saam met hom nie.

“By die matriekafskeid het hy my kom vra of ek met hom wil dans en na die dans, het hy voorgestel dat ons ‘vars lug’ buite gaan skep.

“Daar het ek toe die soen van my lewe by die liefde van my lewe gekry en die res is geskiedenis.

“Ons het die res van die aand om gedans en vandag dans ons steeds by die Christiaan Els Dansskool.”

Vir dié egpaar is dit belangrik om die liefdesvlam in hul huwelik hoog te laat brand deur humor te gebruik, saam te lag, saam tyd te bestee, mekaar vas te hou, lekker stywe drukkies te gee, mekaar gereeld in die oë te kyk en met mekaar te gesels sonder enige tegnologie of ander onderbrekings.

“Vlinders, sonskyn en skoenlappers is maar seisoensgebonde,” het Ronél gesê.

Sy meen ’n huwelik en verhoudings gaan deur verskillende seisoene.

“Besef dit en geniet elke seisoen vir wat dit is.

“Die huwelik is ʼn kopbesluit en ʼn keuse elke dag.”

Dit is vir dié egpaar ook van uiterse belang om mekaar te respekteer.

“As daar besluite geneem gaan word wat albei huweliksmaats gaan affekteer, moet die ander party in ag geneem word.

“Moenie mekaar kritiseer of verneder voor ander nie.

“Moenie mekaar by ander soos kollegas, vriende of familie bespreek of in ʼn slegte lig stel nie.

“Dit geld natuurlik nie as ʼn professionele persoon genader word vir huweliksberading nie.”

Die Sadies hanteer konflik op ’n mooi manier deur nie in tirades te verval waar daar op mekaar geskreeu word nie of om stilstuipe te hê of mekaar te ignoreer nie.

“Dit is ’n wenresep vir huweliksprobleme,” meen Ronél.

“Ons is oop, eerbaar, deursigtig en eerlik met mekaar op alle gebiede.

“Dit sluit in, finansiële besluite, WhatsApp-boodskappe, sosiale media, wagwoorde, soekgeskiedenis op internet en meer.

“Vertroue is teer, broos en soos glas wat maklik breek, as dit eers een keer gebreek is, is dit baie moeilik om weer te herstel.”

Hulle glo ook daarin om fisies op mekaar ingestel te wees en glo dat aanraking, drukkies en intimiteit nie opsioneel in die huwelik is nie, maar ’n moet.

Die Sadies glo dat dit beter is om te trou as om saam te bly.

Jaco meen om saam te bly is soos om ’n agterdeur oop te hou in ’n verhouding.

“Hoekom wil mense hulle nie verbind tot ’n huwelik nie?

“Finansies is nie ’n verskoning nie, ’n troue en ’n groot en duur onthaal is twee verskillende dinge.

“Om te trou, is om jouself 100% aan jou lewensmaat te verbind en dit is hoekom ons getrou het,” het Jaco gesê.

Die Sadies het reeds vroeg in hul verhouding besluit hulle wil met mekaar trou, maar die geleentheid het egter eers later gekom.

“Van die oomblik af wat ons besluit het ons wil trou, was die fokus op die oplos van probleme in ons verhouding,” het Jaco vertel.

“Ons het egter geen twyfel op ons verhouding opsigself gehad nie.”

Die tema vir 2023 se Huweliksweek, ‘Ek Kies Jou’, beteken vir Jaco dat hy sy vrou ’n prioriteit maak en haar elke dag aktief kies.

Vir Ronél beteken die huwelik ook dat twee mense dan een span is.

“Daar is dan nie meer ’n ek en jy nie, dit is net ons,” het Ronél afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version