Local news

Burger-egpaar praat oor hul huwelik

Famsa fokus die week op Brynard en Magda.

Dié week fokus Famsa, as deel van hulle huweliksvieringe vir Huweliksmaand wat September is, op die Burger-egpaar.

Brynard en Magda Burger is al 33 jaar getroud en het mekaar by Brynard se broer se verjaarsdag ontmoet in Kimberley waar hulle albei grootgeword het.

Brynard het nie gras onder sy voete laat groei nie en Magda saam genooi kerk toe die dag na die partyjie.

“Ons eerste ‘date’ was om saam kerk toe te gaan,” het Magda vertel.

Die paartjie het vir drie jaar ’n langafstand-verhouding gehad en mekaar net elke ses weke gesien voordat hulle getroud is en Magda by Brynard op Secunda aangesluit het.

Na al die jare saam, leer die twee mekaar steeds ken.

Hulle hou die vlam in hul huwelik lewendig deur steeds daagliks mooi dinge vir mekaar te sê en mekaar spesiaal te laat voel.

Magda het tot met Brynard se aftrede by Sasol elke dag vir hom ’n kosblik gepak met spesiale briefies in en hy sê elke dag vir haar sy lyk mooi.

“’n Mens moenie in die huwelik alles as vanselfsprekend aanvaar nie,” het Brynard gesê.

Dié egpaar waardeer mekaar daagliks en Magda sê vir Brynard dankie as hy die grassny en ander dingetjies in en om die huis doen.

“Hy sê seker 10 keer per dag vir my hy is lief vir my,” het Magda gesê oor hoe Brynard haar spesiaal laat voel.

Hulle glo ook in ’n huwelik moet ’n mens gereeld dinge saam doen en hulle gaan stap elke oggend saam.

“Dit is vir ons ook belangrik om ons troupande te dra, dit is ’n simbool dat ons aan mekaar behoort,” het Brynard gesê.

Die Burgers glo ’n gelukkige huwelik gaan oor twee onperfekte mense wat besluit om nooit op te gee op mekaar nie.

Hulle glo die huwelik is beter as hofmakery omdat die huwelik ’n Goddelike instelling is.

“God het ons saam gevoeg, om in ’n huwelik te tree, ons het nooit saam gewoon voordat ons getroud is nie,” het Brynard gesê.

“’n Huwelik is nie altyd perfek nie, maar dit is soos ’n spanbou-sessie, ’n mens werk die hele tyd as ’n span saam in die huwelik.

“Dit is soos om ’n altaar te bou, as die klippe van die altaar afval, is dit ons al twee se werk om dit weer op te tel en verder te bou.

“Dit was ook vir ons belangrik om vir ons kinders ’n goeie voorbeeld te stel van hoe ’n huwelik moet lyk en God was nog altyd die middelpunt van ons huwelik.”

Op die vraag oor hoe die egpaar geweet het hulle is reg vir trou, het albei saamgestem dat die langafstand-verhouding gehelp het, dat hulle dadelik geweet het hulle is bedoel vir mekaar en wil trou.

“Ons het dit geweet vandat ons mekaar ontmoet het,” het Magda gesê.

“Toe sy met daardie wit rok by die partytjie aangekom het, het ek geweet sy is my trouvrou,” het Brynard vertel.

Oor die tema vir vanjaar se huweliksweek, ‘Ek Kies jou’, het die paartjie gesê vir hulle beteken dit, dat hulle aanhou bou aan hulle altaar saam, vir mekaar lief bly en nooit opgee op mekaar nie.

Magda vertrou Brynard met haar lewe en het vertel hoe hy haar teen ’n hangleer af gedra het tydens ’n staproete by die Golden Gate nasionale park.

“Ek het hoogtevrees en kon net nie self teen daai leer afklim nie,” het Magda vertel.

“Dit is waar vertroue inkom, toe het ek geweet hy sal enige iets vir my doen,” het sy afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button