Local newsStreeknuus

Munisipaliteit faal met dienslewering op Delmas, inwoners spring self in

“Die kundigheid en bronne om behoorlike dienste te lewer, bestaan bloot net nie meer nie.”

Met die 2024 algemene vekiesing nou net ’n klipgooi weg, het Streeknuus by Delmas-inwoners gaan aanklop om uit te vind hoe hulle oor dienslewering binne die ANC-beheerde Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) voel.

“Ons betaal belasting, maar die mees basiese dienste word bloot net nie gelewer nie,” was die meeste inwoners se reaksie.

Klagtes rondom gebrekkige water- en elektrisiteitsvoorsiening, vervalle infrastruktuur, slaggate, gebrekkige kommunikasie vanaf die munisipaliteit, die stank van riool asook die veiligheid van inwoners oor die algemeen was van die kwelpunte wat inwoners geopper het.

“Dienslewering binne die munisipaliteit ontbreek in totaliteit. Ons publiek moet opgelei word om die ‘selfdoen-praktyk’ te kweek en begin besef dat ons self na ons dorp moet kyk,” het Carel Botha aan Streeknuus meegedeel.

Volgens Botha word Delmas-dorp se strate deur swaar voertuie vertrap en word daar oor die algemeen nie enige instandhouding aan die strate gedoen nie. “Voertuie wat nie in die dorp hoort nie en ek glo dit kan aan gebrekkige toepassing van wetgewing deur ons verkeersdepartement se voete gelê word.


Dr Martin van Rensburg en Madel Fourie.

“Daar word oor die algemeen nie enige instandhouding aan die strate gedoen nie, grond word in massiewe slaggate gegooi net om met die eerste reëns weer uit te spoel.”

Volgens Botha is watervoorsiening ook ’n probleem. “Delmas se water word reeds sedert April verlede jaar saans toegemaak. Toe was die verskoning dat daar deur Rand Water instandhouding gedoen sou word.

“Wat die verskoning ’n jaar later is weet niemand nie, want daar word geen verduideliking vanaf die munisipaliteit gegee nie. Ons water word inteendeel saans al hoe vroeër toegemaak en al hoe later soggens weer oopgemaak.”

Volgens Botha sien hy nie lig vir verbeterde dienslewering onder die huidige bedeel nie.

“Ons mense moet opstaan en selfdoen. Maak in en om jou eie eiendom skoon en raak betrokke by groepe soos Delmas Herleef en AfriForum en wees die verskil.

“Dink aan die erfenis wat ons ouers vir ons gelaat het en die totale verval wat daar tans plaasvind. Ek kry skaam om ons land en ons dorp Delmas vir ons kinders so na te laat.”

Madel Fourie, ’n inwoner, maar ook die ruggraat agter die groep vrywilligers, beter bekend as Delmas Herleef, het gesê dat rommelstrooi nie net vir Delmas nie, maar vir die hele land ’n groot uitdaging is.

“Verlede jaar toe Delmas as Die Dorp van die Jaar gekroon was, het ons as Delmas Herleef onder andere 60 sement asblikke aangekoop, ons embleem daarop geplaas tesame met ’n versoek dat die publiek nie moet rommel strooi nie. Hierdie asblikke het ons op strategiese plekke geplaas in die hoop dat dit die problem in ’n mate sou aanspreek.

“Maar helaas, mense gooi hulle vuilgoed net neer, soms sommer langs die asblik. Ons het ’n reuse- opvoedingstaak.”

Fourie het verder genoem dat hierdie opvoedingstaak by die gemeenskap se kinders, die skole en die kerke moet begin om kinders te leer on nie papiere, bottels en ander gemors net goedmoeds neer te gooi nie. Fourie het verder gesê dat Delmas Herleef tans na ’n nuwe herwinningskonsep kyk.

“Dit word packa-ching genoem en dit behels ’n sentrale punt waarheen herwinningsmateriaal geneem word. Hier word jou material geweeg en jy word daarvoor vergoed.”

Volgens Fourie is dit nog in ’n ondersoekfase, maar hulle kyk ernstig daarna om ’n oplossing vir die probleem van rommestrooiing te vind.


Madel Fourie takel die probleem van rommelstrooiing.

“Ons moet na ’n oplossing kyk om nie net vir ons ons dorp nie, maar ook vir ons nageslag ’n Delmas en ’n land te gee om op trots te wees,” het Fourie afgesluit.

Nog ’n prominente figuur binne Delmas Herleef, predikant van die Hervormde Kerk op Delmas, doktor Martin van Rensburg, het gesê dat die meeste stadsrade met kapasiteitsprobleme worstel.

“Die kundigheid en bronne om behoorlike dienste te lewer, bestaan bloot net nie meer nie,” het van Rensburg laat hoor.

“Wedywering om politieke mag en korrupsie help ook nie om beter dienste te lewer nie en die groot hartseer is dat die verkiesing van 29 Mei beslis nie ’n vinnige oplossing gaan bring nie.”

Volgens van Rensburg sal gemeenskappe, kerke en skole meer betrokke moet raak.

“Ons sal moet saamstaan en doen wat daar gedoen moet word, elkeen se betrokkenheid kan ’n verskil maak.

“Ons mense het nog ’n keuse, of ons raak betrokke in Delmas of ons trek na ’n ander dorp toe. Gaan dit werklik beter wees daar, gaan ons sit en toekyk hoe ander mense betrokke is terwyl ons niks doen nie om net maar weer later te kla oor dienslewering of gaan ons hande vat en saam ’n verskil maak?” het van Rensburg afgesluit.

Dit blyk dus uit talle navrae dat die gemeenskap van Delmas ongelukkig is oor die gebrek aan dienslewering en die totale verval van die dorp.

“Of die verkiesing enige verskil gaan maak, sal ons maar moet sien, maar dink mooi wanneer jy jou kruisie op 29 Mei by die stembus gaan trek,” het Botha afgesluit.


Related Articles

 
Back to top button