Local newsStreeknuus

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag lei protospanlede op

“Met hierdie deeglike opleiding kan ons lede die gemeenskap net beter dien en ons beoog om nog lede in die toekoms deur die kursus te sit.”

Drie van AfriForum se Delmas Valke Buurtwaglede het gedurende Maart gespesialiseerde protospanopleiding ondergaan.

Volgens Hennie Bekker, distrikkoördineerder vir die Hoëveld, ontvang AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenhede, oftewel protospanne, hierdie opleiding wat vir hulle ’n voorsprong in terme van gemeenskapsveiligheid gee.

Bekker het ook gesê dat die opleiding oor teoretiese en praktiese komponente beskik wat daarop gemik is om lede se kennis te verfyn van onder meer kontakgevegkuns, bloedingbeheer, die beveiliging van tonele, die opstel van padblokkades en taktiese vuurwapenhantering.

Benewens protospanopleiding, bied AfriForum verder op ’n weeklikse basis ook basiese buurtwagopleiding aanlyn aan. Hierdie opleiding dek aspekte soos misdaadtoneelhantering, inligtingsinsameling, regsaspekte en huis-en-haard-beskerming. Meer as 7 000 vrywilligers het hierdie opleiding die afgelope twee jaar suksesvol voltooi.

Dit was met groot trots dat ons verneem het dat ons drie protospanlede, Jaun Herholdt, Francois Kruger en Paul van der Merwe hierdie kursus geslaag het, het Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak, gesê.

“Maklik was dit beslis nie en die manne het baie moeg, maar vol nuwe geesdrif van die ‘army’ af teruggekeer. Ons waardeer elkeen van hulle se opoffering van hul tyd, werk en persoonlike lewens om sodoende vir ons buurtwag van nog groter waarde te wees.

“Met hierdie deeglike opleiding kan ons lede die gemeenskap net beter dien en ons beoog om nog lede in die toekoms deur die kursus te sit,” het Botha afgesluit.

Raak vandag nog by jou naaste tak betrokke by www.wordlid.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button