Motoriste gemaan oor voorwerpe in die pad ná man se moord op N4

“Sit jou voertuig se noodligte aan en ry stadig tot by ’n veilige plek of stop dan sover as moontlik van die toneel weg. Maak kontak met ’n familielid of vriend en laat weet hulle van waar jy jou bevind.”

Na die wrede dood van ’n man op die N4 in die Donkerhoek omgewing, word motoriste gemaan oor hul veiligheid op nasionale paaie.

Jean Jonker, die voorsitter van die Boschkop GPF, het aan Streeknuus bevestig dat ’n motoris en sy drie passasiers op 30 Maart op die N4 in hul voertuig gery het.

Die motoris het omstreeks 22:00 ’n skerp voorwerp in die pad getref waarna hy moes stilhou om ondersoek in te stel.

Een van die voertuig se bande was heeltemal pap en die groep het begin om die band om te ruil. Wat hierna gebeur het, lees soos ’n storie uit ’n riller. Die groep is deur gewapende aanvallers oorval.

Volgens Jonker het die bestuurder glo probeer om van die toneel af weg te vlug, maar is met ’n skerp voorwerp in die rug gesteek.

’n Soektog na die verdagtes het gevolg, maar teen druktyd was hulle steeds nie aangekeer nie. Die slagoffer is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Jonker het verder bevestig dat die passasiers van kontant en hulle selfone beroof is. Die berugte N12 in die Delmas omgewing is verder ook bekend vir voorvalle waartydens motoriste voorwerpe in die pad tref wat hulle dan noodsaak om te stop.


Skade soos die word deur voorwerpe op die N12, N4 en ander paaie aangerig.

Van die mees onlangse voorvalle het in Maart tussen die R50 en R42-afritte in die Delmas omgewing plaasgevind.

Ook in die meeste van hierdie gevalle word motoriste dan deur gewapende rowers van hul selfone, kontant en waardevolle items beroof.

Volgens kaptein Carla Hartley, woordvoerder van die Delmas SAPD, word die aanvallers ook toenemend meer aggressief, is gewapen en skroom nie om geweld te gebruik nie.

In die gevalle wat sporadies op die N12 plaasvind, word daar glo vermoed dat die rowers te voet beweeg en langs die pad in bosse en/of tussen bome wegkruip.

Volgens Hartley moet motoriste wat ’n voorwerp in die pad tref, probeer om sover as enigsins moontlik is aan te hou ry.

“Sit jou voertuig se noodligte aan en ry stadig tot by ’n veilige plek of stop dan sover as moontlik van die toneel weg. Maak kontak met ’n familielid of vriend en laat weet hulle van waar jy jou bevind.


Skade aan voertuigband wat oor ’n voorwerp op die N12 naby Delmas gery het.

“Dit is nie altyd moontlik nie, maar ons sou motoriste aanraai om verkieslik nie na donker op die N12 te ry nie,” het Hartley ook gesê.

“Beplan jou reis so dat jy eerder in die daglig kan reis.”

Jonker het ook gemaan dat motoriste bedag moet wees.

“As die slagoffers van Saterdagaand net ’n paar kilometer aangery het, kon hulle in die veiligheid van die verligte weegbrug gestop het.”

Beide Hartley en Jonker het motoriste aangeraai om enige gevalle van voorwerpe in die pad by die polisie aan te meld.

Jonker het Streeknuus verder meegedeel dat bewusmaking van die voorvalle aan die publiek een van die belangrikste opvoedingstake is.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version