Klein steekhaar van Bapsfontein oorleef slangbyt

Ronel Venter het vir sowat ’n uur lank elke paar sekondes lug in haar hond geblaas terwyl die hond vanaf Bapsfontein na Faerie Glen vervoer is.

Dit was so hittete of Zita die hond het nie ’n slangbyt oorleef nie. ’n Rinkhals het dié vierjarige steekhaar terrier van Bapsfontein op 17 Februarie aan die bek gepik.

Haar eienaar, Ronel Venter, het gou gereaggeer en met die hondjie na die Bapsfontein Dierekliniek gehaas.

Met hul aankoms by dierekliniek het Zita nog geen tekens van swelling getoon nie, maar dr Mariksa Malan, veearts, het dadelik die hond op ’n drip geplaas en kortisoon ingejaag.

En toe is dit is ’n kwessie van wag en dophou. Sowat 30 minute later het Zita simptome begin wys. Sy kon nie asem kry nie en haar longe het platgeval.

Malan het vir Zita ’n flessie teengif toegedien en ’n pyp is in die hond se lugpyp geplaas. Malan het sowat 50 minute lank ventilasie toegepas om Zita met asemhaling te help.

Venter het teen hierdie tyd die Valley Farm Dierehospitaal geskakel sodat Zita daarheen verplaas kon word omdat daar ’n ventilator is.

Dit het egter beteken dat Venter self lug in haar hond sou moes blaas tydens die vervoer vanaf Bapsfontein tot by Valley Farm in Faerie Glen, Pretoria.

Venter het vir sowat ’n uur lank elke paar sekondes lug in Zita geblaas. Nog ses flessies teengif is by Valley Farm toegedien en die steekhaar is aan ’n ventilator gekoppel.

Skaars twee dae later is Venter se geliefde troeteldier ontslaan en huistoe geneem. Dit het nog ‘n tydjie geneem, maar nou is Zita weer haar ou, lewendige self.



LEES OOK: Water is still a major problem in Bronkhorstspruit

LEES OOK: Been twee van rolbalbesigheidsliga op Delmas afgehandel

Exit mobile version