CrimeLocal newsStreeknuus

Vrou wat glo R2.6m by Laerskool Delmas steel, doen om borg aansoek

Vern, wat ten tye van die beweerde bedrog en diefstal van die laerskool se gelde as finansiële beampte by Laerskool Delmas in diens was, staan tereg op 86 aanklagte van bedrog en diefstal en ’n verdere 633 aanklagte van geldwassery.

Larissa Aloma Vern (52) het op 26 Februarie en weer op 5 Maart in die Delmas Landdroshof verskyn waar sy om borg aansoek gedoen het.

Beide die staat en verdediging het hul verklarings aan die hof voorgelê. Die aansoek is kompleks en daarom is daar om uitstel gevra.

Vern wat daarvan aangekla word dat sy sowat R2.6m vanuit Laerskool Delmas se bankrekening gesteel het, is op 9 Februarie op ’n plaas in die Thabazimbi-omgewing in hegtenis geneem.

Vern, wat ten tye van die beweerde bedrog en diefstal van die laerskool se geld as finansiële beampte by Laerskool Delmas in diens was, staan tereg op 86 aanklagte van bedrog en diefstal en ’n verdere 633 aanklagte van geldwassery.


Larissa Aloma Vern (52).

Haar prokureur het haar verklaring aan die hof voorgelees. Daarvolgens het Vern aangevoer sy het in finansiële knyp verkeer toe sy die eeste keer geld vanuit die skool se rekening in haar eie rekening oorbetaal het.

Toe sy egter agterkom dat sy nie ‘uitgevang’ word nie, het sy glo aangehou om geld uit die skool se rekening te neem.

Vern het gesê sy is sieklik en benodig kroniese medikasie. Sy is ook bekommerd oor haar twee minderjarige kinders.

Vern het verder aangedui dat sy haar reg tot stilswye uitoefen. Die staatsaanklaer, Gustav Schult, het op sy beurt feite rondom die vermeende diefstal en bedrog in die hof geopenbaar.


Die struktuur op ’n plaas in Thabazimbi waar Larissa Vern glo haar voertuig versteek het.

Slegs enkele van die 86 aanklagte van bedrog en diefstal was aan die hof geopenbaar. Bedrae het ingesluit twee van R250 000 elk, een van R100 000 en een van R50 000 asook kleiner bedrae van R32 450.

Vern sou dan na bewering die geld in haar hoofrekening by Captitec inbetaal en van daar rondskuif tussen drie ander rekeninge.

Schult het verder die hof se aandag daarop gevestig dat die geld gebruik was vir die aankoop van luukshede, onder meer ’n Toyota Fortuner.

Dié voertuig was weer verkoop en ’n ander, ’n Alfa Romeo Julietta, aangekoop. Hierdie transaksie sou glo deel uitmaak van die 633 aanklagte van geldwassery teen Vern.


ALSO READ: Voorsitter van TLU SA Sentraalstreek sê boerdery is ’n uitdaging


Die staat het verder aangevoer dat Vern gevlug het nadat sy agtergekom het sy word vir bedrog gesoek. Verskeie adresse in die Victor Khanye munisipale gebied was aan die hof voorgehou waar sy by elk van hierdie wonings in kontant vir huurdeposito’s en huur betaal.

Vern se laaste skuilplek was ’n plaas op Thabazimbi, met hoë sekuriteit wat kamera’s en elektriese heinings insluit.
Gewapen met ’n lasbrief vir haar inhegtenisname, moes die polisie behoorlik bakstaan om toegang tot die perseel te kry.

Die polisie is glo met ’n grondpad na ’n verlate huis diep op die plaas gelei. Hier is Vern en haar jongste dogter aangetref.

Vern se motor, die Alfa Romeo was in ’n struktuur, agter ’n seilgordyn versteek. In dié motor was daar ’n verkeersboete waarop Vern glo ’n vals identiteitsnommer, adres en van sou opgee.


Die Alfa Romeo Julietta waarin Larissa Vern glo na Thabazimbi gevlug het.

Verskeie selfoon simkaarte, waarvan sommige nog geseël, was ook in Vern se besit gevind. Vern is op die toneel in hegtenis geneem en in die Delmas polisieselle toegesluit.

Na haar tweede verskyning in die hof op 21 Februarie is sy egter na die vrouegevangenis in Johannesburg oorgeplaas.

Hierdie oorplasing het gevolg nadat Vern glo in haar sel in besit van ’n selfoon, skoenveters en ’n tas betrap is.
Sy het verder glo ook medikasie in haar besit gehad wat nie in haar naam uitgereik was nie.

Na Vern se hofverskyning op 26 Februarie was sy egter weer in die Delmas polisieselle aangehou tot en met haar borgaansoek op 5 Maart.

Die saak is daarna weer na 12 Maart uitgestel en Vern is steedsin aanhouding. Laerskool Delmas het ook nog nie kommentaar gelewer nie.



ALSO READ: Police warn Standerton community about fake SAPS advertisements

Related Articles

Back to top button