CrimeLocal newsStreeknuus

Nog ‘n liggaam word op R548 naby Delmas gevind

Die twee slagoffers se liggame was slegs 800m uitmekaar gevind.

Met hande en voete vasgemaak is die liggaam van nóg ’n slagoffer aan die R548-pad in die Brakfontein omgewing gevind.

Volgens inligting het die Delmas Polisie op 14 Februarie ’n oproep ontvang oor die moontlikheid van nog ’n liggaam aan dié, nou reeds berugte, pad. Met die polisie se aankoms op die toneel, was die liggaam weggesteek in die ruie gras.

Soos met die liggaam wat op 9 Februarie aan dieselfde pad gevind is, was die slagoffer se hande en voete ook met wit plastiese kabels vasgebind. Die twee slagoffers se liggame was slegs 800m uitmekaar gevind.

Streeknuus het in die uitgawe van 16 Februarie berig oor die eerste geval waartydens die gedeeltelik ontbinde liggaam van die 42-jarige Eleck Hlapa Mokoena gevind was. Mokoena was glo die slagoffer van ’n kaping.


Die R548-pad waar twee liggame binne een week gevind is.

Mokoena was, volgens die polisie op Kriel, deur sy familie as vermis aangemeld nadat hy sy familie op 7 Februarie meegedeel het dat hy beplan om familie in Johannesburg te besoek.

Volgens verdere inligting het Mokoena ten tye van sy verdwyning ’n silwer Toyota Fortuner gery en was in die omgewing van Kriel gekaap.

Volgens Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van Delmas SAPD, kon die laaste liggaam moontlik ook die slagoffer van ’n kaping gewees het.

Hartley het aan Streeknuus bevestig dat die modus operandi ooreenstem met die van die eerste geval. Streeknuus het op 16 Februarie die toneel besoek.


Die liggaam van ’n tweede slagoffer word langs die R548-pad deur die forensiese dienste verwyder.

Die R548, wat uit die R50 draai, is in die Brakfontein omgewing en lei na Devon. Op dié dag was lede van die Delmas Polisie in samewerking met ’n lid van die Sundra Bulldogs Buurtwag besig om met behulp van ’n hommeltuig die omgewing te fynkamp.

Sterk wind het egter die operasie gefnuik en dit sou op ’n later stadium hervat word. Hartley het ook bevestig dit is ’n stil pad en dat beide liggame aan die linkerkant van die pad gevind is, wat daarop dui dat die moordenaars na alle waarskynlikheid in die rigting van Devon beweeg het.

Hartley het verder versoek dat veiligheidsmaatskappye wat in die omgewing diens doen op die uitkyk moet wees vir enige verdagte voertuie en of optrede op die pad. Teen druktyd kon geen terugvoer vanaf die Delmas SAPD verkry word oor die tweede slagoffer se identiteit nie.

Daar kon dus ook nie bevestig word of hy wel ook die slagoffer van ’n kaping was nie. Die oorsaak van beide mans se dood kon ook nog nie bevestig word nie.


ALSO READ: Hoëveld Fotografieklub se lede skryf wenfotos in

ALSO READ: André Kallel van Standerton speel oop kaarte oor die toekoms


Related Articles

Back to top button