Phoenix rugbyklub skop die seisoen af met ’n tuiswedstryd

“Dit is vir ons belangrik om aan ons ondersteuners in die gemeenskap te bewys dat ons op verlede jaar se prestasie kan voortbou en selfs beter kan doen.”

Die rugbyklub van Delmas, Phoenix, skop die seisoen op 17 Februarie volwaardig af. Phoenix sal in ’n vriendskaplike kragmeteing teen die klub van Groblersdal te staan kom.

Dié wedstryd sal op die rugbyveld van Delmas plaasvind. Volgens Phoenix se afrigter, Jandré Senekal, is Groblersdal ’n sterk span wat in die Carlton Liga kompeteer.

“Ons het egter in 2023 ’n ooreenkoms met Groblersdal aangegaan dat ons spanne teen mekaar sal meeding en sodoende die seisoen te open. Ons het verlede jaar op hul tuisveld gespeel en vanjaar bring hulle besoek aan ons,” het Senekal gesê.

Senekal het verder genoem dat Phoenix nuwe bloed by hul span gevoeg het.

“Dit is spelers met meer ervaring en wie reeds in groter liga’s gespeel het. Dit is vir ons belangrik om aan ons ondersteuners in die gemeenskap te bewys dat ons op verlede jaar se prestasie kan voortbou en selfs beter kan doen.”

Senekal het Streeknuus ook meegedeel dat geen alkohol by die wedstryd toegelaat sal word nie.

“Hierdie is ’n besluit wat ons geneem het om aan ons ondersteuners te bewys dat ons ernstig oor ons sport is.

“Verder het die besluit die doel om as ’n voorbeeld vir ons jeug te dien. Ons wil ons dorpe Delmas, Sundra en Eloff bymekaarbring en ons ondersteuningsbasis vergroot.

“Ons gaan met sport uitreik na ons gemeenskap en poog om ’n daadwerlike verskil te maak.”
Senekal het verder gesê die span van Phoenix beplan om hand by te sit in die afrigting van jong rugbyspelers.

Die besluit om R10 toegangsgeld by wedstryde te verhaal is om mense in nood by te staan.

“Selfs ons snoepie inkomste word meestal gebruik om mense wat swaarkry op die een of ander manier te help.”

Volgens Senekal wil die span van Phoenix ook aan die liga’s ’n sterk en positiewe boodskap stuur.

“As julle gedink het Phoenix lê, dink weer.”

Exit mobile version