Local newsStreeknuus

Delmas Herleef is weer op dreef

Vir elke motoris of ouer wat Bredenkampstraat moet gebruik om kinders by die skool af- of op te laai, is Bredenkampstraat ’n nagmerrie.

Met die nuwe jaar in volle gang het Delmas Herleef op 3 Februarie hul eerste groot projek aangepak.

Vir elke motoris of ouer wat Bredenkampstraat moet gebruik om kinders by Laerskool Delmas af- of op te laai, is Bredenkampstraat ’n nagmerrie. Massiewe slaggate het die pad byna onbruikbaar gemaak.

As eerste projek vir 2024 het Delmas Herleef die slaggate in Bredenkampstraat by Laerskool Delmas begin herstel.

’n Groep vrywilligers het dié taak aangepak. Volgens die bestuur van Delmas Herleef gebruik hulle nou professionele toerusting om slaggate behoorlik te herstel, met die wete dat dit veel langer sal hou as om dit net te vul en vas te stamp.

Terwyl die manne slaggate herstel het, het ’n groep vroue in die omgewing van Bredenkampstraat rommel opgetel.

Reeds vanaf die begin van die jaar was daar, met behulp van Delmas Herleef se werkers wat nou hul eie trekker het, gras in parke op Delmas gesny en rommel op ’n gereelde basis opgetel.

“Dankie aan al die positiewe mense wat kom help het. Dit was groot pret; elkeen van hierdie persone is staatmakers,” het doktor Martin Janse van Rensburg gesê.

Dankie ook aan dié wat vir ons koue drinkgoed gebring het en spesiale dank aan AfriForum Delmas-tak vir die gebruik van hulle kompakteerder.”

“Kom rol jou moue op en wees anders in 2024, want saam maak ons ’n verskil.”

Related Articles

 
Back to top button