Local newsStreeknuus

Sundra gesin is verpletter na ongeluk waarin sesjarige ernstig beseer is

“Ek was besig om te borsvoed en kan nie veel onthou nie, alles was so deurmekaar; daar was baie bloed, glasstukke, mense, mediese personeel en ambulanse.”

’n Gesin van vyf se lewens het verlede week binne ’n oogwenk dramaties verander.

Pa Juan Swart (33), ma Bianca van Tonder (33) en hul vier kinders Zuan (11), Leané (6) Lu-Zaan (4) en baba Joshua (10 maande) was na ’n dag van swem en pret op 7 Januarie op pad terug na hul tuiste op Sundra.

Die gesin se bakkie het tussen 17:00 en 18:00 in die berugte Eloff-draai gerol.

Bianca was besig om vir baba Joshua te borsvoed en Leané het op die middelste stiplek teen mamma se arm aan die slaap geraak.

“Ek was besig om te borsvoed en kan nie veel onthou nie, alles was so deurmekaar. Daar was baie bloed, glasstukke, mense, mediese personeel en ambulanse,” het Bianca gesê.

Verskeie lede van die gesin het sny- en kneuswonde opgedoen en is per ambulans na hospitale vervoer.

Die bakkie het egter op Leané se arm te lande gekom en was sy daarom hulpeloos vasgepen.

Volgens Bianca was Leané egter redelik spoedig bevry, maar die skade aan haar hand was opsigtelik erg.

Bianca en Zuan het ’n week in die hospitaal deurgebring waar hul wonde ontsmet en behandel was.

Leané is in die Charlotte Maxeke Hospitaal opgeneem waar sy reeds drie operasies ondergaan het om haar hand te red.

“Omdat ons nie ’n mediese fonds het nie is ons heeltemal afhanklik van die staat vir Leané se behandeling.

“Die kanse was goed dat Leané se hand moontlik geamputeer sou word en by die hospitaal moes ons dokumente onderteken. Ons is steeds onseker oor wat die toekoms vir ons en vir Leané inhou en of sy haar hand sal behou.”

Haar hand is onder andere op haar maag deur middel van flapsjirurgie, ’n vorm van rekonstruktiewe plastiese snykunde, vasgewerk om sodoende te poog om weefsel te kweek om die hand te red.

Volgens Bianca is dit ook baie moeilik om vir Leané te gaan besoek.

“Ek moet in die gang sit, want baba Joshua mag nie ingaan nie. Ek borsvoed en dan kyk Juan vir rukkies na Joshua terwyl ek by Leané kuier.”

Die gesin se nood is egter ook finansieël.

Juan moet elke dag die sowat 250km na Johannesburg en terug ry om by Leané te wees terwyl Bianca na die res van die gesin moet omsien.

“Die ryery na die hospitaal en kos vir Leané plaas ongelooflike finansiële druk op ons. Brandstof, tolhekke en kos beloop sowat R600 tot R800 per dag en daar is nie ’n inkomste nie. Soms weet ons net nie meer nie.”

Bianca het intussen ’n BackaBuddy blad gestig waarin daar om finansiële hulp gevra word.

“Elke bietjie help. Ons kry ook ondersteuning van die gemeenskap en is baie dankbaar daarvoor. Vir nou neem ons dit dag vir dag met die onsekerheid oor wat met Leane gaan gebeur, of haar hand behoue sal bly, hoe lank sy nog in die hospitaal sal moet bly en wat die opvolg-behandeling daar sal behels.”

Bianca het verder gesê Leané het intussen ook van nekpyn begin kla het en genoem het dat haar een been lam is.

“Of daar dalk verdere skade is, weet ons nog nie. My mamma-hart is stukkend. Ons raap en skraap om elke dag by Leané uit te kom, kos te koop en ons maandelikse huur te betaal. Ons vra dat mense ons asseblief sal help om deur hierdie baie moeilike tyd in ons lewens te kom,” het Bianca afgesluit.

Teen druktyd het Streeknuus ook met Juan in verbinding getree, maar hy was by die hospitaal.

“Ek staan voor die teater by die hospitaal, Leané gaan nou in teater toe vir haar vierde operasie,” het Juan gesê.
Om die gesin finansieël te ondersteun kan BackaBuddy.co.za besoek word. Die blad om Leané te ondersteun is ‘Help Leané’.

Bydraes kan ook direk in pa Jaun se rekening geplaas word.

Rekeningbesonderhede: J Swart, African Bank spaarrekening, met rekeningnommer 20077912468.

Die gesin bedank die gemeenskap vir hulp en bystand in die moeilike tyd.

Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus oor die bevinding van dokters nadat Leané haar vierdie operasie op 6 Februarie sou ondergaan.

Related Articles

Back to top button