Local newsStreeknuus

Delmas Herleef deel hul doen en late met gemeenskap

Volgens Van Rensburg het Delmas Herleef baie goeie bande met die plaaslike munisipaliteit opgebou en beoog om daarop voort te bou in 2024.

Die komitee en lede van Delmas Herleef het op 29 Januarie om 18:30 ’n inligtingsessie in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas aangebied.

Die doel van die sessie was om die inwoners van Delmas op hoogte te bring met die doen en late van Delmas Herleef sedert Delmas as Dorp van die Jaar in 2023 aangewys is.

Die sessie het verder ten doel gehad om inwoners oor die geldsake van Delmas Herleef in te lig.

Dr Martin van Rensburg het die aand se verrigtinge met gebed geopen waarna hy met die inligtingsessie afgeskop het.

Die komitee van Delmas Herleef is van Rensburg as voorsitter, Madel Fourie, Melissa van Niekerk, Christelle Parrott en Marié Terblanche voorgestel met Kobus Fourie wat agter die bestuur van die finansies staan.

Volgens Van Rensburg het Delmas Herleef baie goeie bande met die plaaslike munisipaliteit opgebou en beoog om daarop voort te bou in 2024.

“Inwoners moet egter ook verstaan dat Delmas Herleef nie enige iets aan die kragsituasie of provinsiale paaie kan doen nie. Ons visie is om Delmas op alle terreine te laat herleef en ons missie is om skoon te maak, te herstel, te verf en te plant.”

As kykNET se Dorp van die Jaar, het Delmas Herleef as deel van hul prys R1m van Lottoland ontvang. R1m in die vorm van lugtyd op kykNET was verder ook deel van die prysgeld.

“Hierdie lugtyd word in die vorm van advertensie vir Delmas op kykNET aangewend,” het Van Rensburg gesê.
Hierna was dit die spreekbeurt van Madel Fourie. Sy het beklemtoon dat rommel steeds een van die grootste kopsere is en dat oplossings daarvoor deel van die planne op die tafel is.

Daar was ook aangekondig dat Delmas in wyke, soortgelyk as die van die Valke Buurtwag, ingedeel gaan word.
“Dié wyke werk reeds vir etlike jare en net soos met die buurtwag sal daar dan leiers vir elke wyk aangewys word.”

Volgens Madel sal die funksie van die wyksleiers wees om inligting en motivering onder inwoners en besigheidseienaars te versprei in die hoop dat meer inwoners by Delmas Herleef betrokke sal raak deur hul sypaadjies en onmiddellike omgewing skoon te hou en te verfraai.

Hierna was die finansiële bestuurder Kobus aan die woord. Hy het die finansies en aanwending van prysgeld in fyn detail aan gaste voorgelê.

Kobus het verder ook dit duidelik gemaak dat Delmas Herleef se boeke professioneel geoudit word en dat alle besluitneming besteding deur middel van ’n kworum gedoen word.

Afgri op Delmas is bedank vir hul skenking ten opsigte van ’n grassnyer (slasher) wat agter die trekker ingespan word asook Cobus Human vir sleepwa wat gebruik word om toerusting vir die vul van slaggate te karwei.

Alles het darem nie net oor finansies en beplanning gegaan nie. Komitee-lid Johann de Lange het die inwoners ingelig oor die volgende Delmas Herleef Makietie wat vir 26 Oktober beplan word.

“Dit beloof om weer een groot fees te wees. Verskeie puik kunstenaars kom ook weer op die dorp kuier en daar is selfs ’n lekker groot kompetisie wat later in die jaar aangekondig sal word,” het De Lange gesê.

Na afloop van die formaliteite het Delmas Herleef lede en gaste heerlik saam gekuier rondom ’n tafel met eetgoed en koffie en tee.

“Ek wil vir Celso van Pick ’n Pay bedank vir die eetgoed wat hy vir ons beskibaar gestel het,” het Van Rensburg ook gesê.

Kobus Fourie aan die woord.
Dr Martin van Rensburg aan die woord tydens Delmas Herleef se inligtingsessie aan die gemeenskap.

Related Articles

 
Back to top button