Local newsStreeknuus

Maak bloedskenk ’n nuwejaarsvoorneme in 2024

Volgens SANBS is die behoefte aan bloed deurlopend en benodig die bloedbank elke dag ongeveer 3 500 eenhede bloed om in die behoefte van hospitale in Suid-Afrika te voldoen.

Nuwejaarsvoornemens behels meestal die opgee van slegte gewoontes. Bloedskenk is ’n maklike en haalbare voorneme en boonop een wat lewens kan red.

Die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBD) het oudergewoonte Delmassers genooi om in Januarie bloed te skenk en aan skenkers blyk daar geen tekort te wees nie.

Streeknuus het op 13 Januarie by SANBD se mobiele eenheid by die Willowbrooke Square gaan inloer.

Behalwe vriendelike en ondersteundende personeel was ma en seun, Rita en Phillip Labuschagne daar om hul deel te doen.


Ma en seun, Phillip en Rita Labuschagne doen hul deel om lewens te red by by SANBD se mobiele eenheid op Delmas.

Beide Rita en Phillip het gesê dat hulle bloed skenk om ’n lewe te red. Phillip (23) het gesê hy wou reeds op skool begin om bloed te skenk, maar dat die prosedure hom egter toe so ’n bietjie ‘groen om die kiewe’ gelaat het.

“My ma het my maar so bietjie in die proses ‘ingeboelie’ en vir die afgelope drie jaar skenk ek bloed,” het ’n ondeunde Phillip Streeknuus meegedeel.

Phillip het genoem dat hy deur SANBS gevra en herinner word om te skenk omdat sy bloedgroep O+ baie in aanvraag is.

Rita het Streeknuus meegedeel sy skenk reeds vir 20 jaar bloed.


Ntokoza Mbonani en Mathapelo Nong.

“Vriende van ons se kind wat aan leukemie ly het my tot die besef laat kom hoe belangrik die skenk van bloed vir kankerlyers is,” het Rita gesê.

Nog ’n jongeling, Ntokozo Mbonani (20) het gereed gesit om die stoel in te neem. Op ’n vraag aan Mbonani oor hoekom hy bloed skenk, was die antwoord ook eenvoudig net dat hy ook graag ’n lewe wil red.

Volgens SANBS is die behoefte aan bloed deurlopend en benodig die bloedbank elke dag sowat 3 500 eenhede bloed om in die behoefte van hospitale in Suid-Afrika te voldoen. Nog ’n feit is dat daar bykans elke 35 sekondes ’n lewensreddende bloedoortapping in ons land plaasvind.

SANBS nooi almal om bloed te skenk en sodoende te help om ’n lewe te red. Die mobiele eenheid besoek Delmas gereeld.

Om te bloed skenk, moet ’n persoon tussen die ouderdomme van 16 en 75 jaar oud wees, meer as 50kg weeg, ’n veilige leefstyl leef en ook gesond wees op die dag waarop hy of sy bloed skenk.


Related Articles

Back to top button