Tenkers naby Standerton trek water by brandkrane

“Iewers is iets verkeerd, betaal die res van die dorp vir die water of het iemand by die munisipaliteit toestemming gegee dat derduisende liters water daagliks op die dorp kom haal word?”

’n Hoenderplaas sowat 5km buite Morgenzon, het twee tenkers wat water by die brandkrane op die dorp trek.
Volgens ’n inwoner, gaan die dorp reeds vir ’n geruime tyd onder waterprobleme gebuk.

“As dit beurtkrag is, het ons nie water nie en as die pompe breek is daar ook geen water nie, terwyl water ondrinkbaar is as die toevoer herstel is.

“Die tenkers kom haal daagliks water meer as een keer by die brandkrane.”

Die Standerton Advertiser het ondersoek ingestel en met Corné van Dijk, sakeman, op 15 Januarie in verbindinding getree.

Van Dijk het die koerant na Johan Bothma verwys, wie se grond aan die hoenderplaas grens.

Volgens Bothma, behoort die grond aan die Lekwa Munisipaliteit wat destyds, voor 1994, ’n werkskeppingsprojek begin het.

’n Kontrakteur het water van die dam af gery, maar pype is intussen aangelê. ’n Groot waterrekening word volgens bewering nie betaal nie.

Inwoners van Morgenzon was onseker wie in beheer van die hoenderplaas is. Die inwoner het bevraagteken wie vir die waterrekening pastaan.


Water word daagliks op Morgenzon vermors.

Volgens haar, is daar geen watermeters nie.

“Iewers is iets verkeerd, betaal die res van die dorp vir die water of het iemand by die munisipaliteit toestemming gegee dat derduisende liters water daagliks op die dorp kom haal word?”

Sy het gewys daarop dat inwoners van die ouetehuis ’n beroep doen op mense met boorgate om te help met hul watertekort.

Van Dijk het ’n foto aangestuur waar die tenker op Google maps verskyn, terwyl nog ’n inwoner ’n video aangestuur het van grootskaalse watervermorsing.

Die bestuurder van die tenker was tydens die voorval nêrens in sig nie. Om dit te sien, gaan na www.ridgetimes.co.za en kliek op Standerton Advertiser.

Volgens inligting, word die een tenker vir die hoenderplaas gebruik, terwyl die ander een betaal word om water na die informele nedersetting aan te ry want die brandkrane word deur die tenkers leeggetap.

Die inwoners was teen Maandag reeds vier dae sonder watervoorsiening.

Die Standerton Advertiser het op 16 Januarie die kommunikasiebestuurder van Lekwa, Lubabalo Majenge, oor die situasie ingelig en om kommentaar gevra. Geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

Exit mobile version