Coen Westenraadt van Secunda wil storie vertel met sy houtfigure en ysterprentjies

Man wil sy stokperdjie na volgende vlak neem en benodig hulp.

Coen Westenraardt (70) glo ’n mens moet dit wat tot jou beskikking is gebruik en elke geleentheid aangryp.

Hy werk as ’n meganiese motorwerktuigkundige op ’n myn en in sy vrye tyd maak hy allerhande items vanuit klip, hout en blik.

Die materiaal wat hy gebruik om die mannetjies, vliegtuie en ander items mee te maak, is meestal klippe wat hy in die veld of langs die pad optel of hout van ’n boom wat hy opgekap het. Hy maak prentjies uit skrootyster en baie van sy prente of items wat hy maak, vertel ook ’n storie.

“Die sirkel van die lewe is ’n voorstelling van hoe sommige mense se lewe is,” het Westenraardt gesê.

“Eers skreeu iemand op jou, dan skop hulle jou uit die huis uit en verneder jou voor ander en naderhand los hulle jou. Kinders moet oplet na die sirkel van die lewe.”

Westenraardt wil vir jongmense wys as daar geleenthede om hulle is moet hulle dit net raaksien.

“Gebruik dit wat jy het en maak iets.”

Van die figure wat hy vanuit klip gemaak het, vertel ook ’n storie.

“Dié een is ’n gewone man wat staan en gesels, en dié een is ’n man wat agterbaks is. Kyk na die manier hoe hy staan,” het Westeraardt vertel watse storie elkeen van sy klipfigure voorstel.

Westenraardt het op Sabie grootgeword en wou eers ’n treindrywer word, maar het nadat hy vir ’n rukkie gedoen het besluit dit is nie vir hom nie.

Hy het later na Bethal verhuis toe hy daar ’n geleentheid gekry het om as ’n meganiese motorwerktuigkundige opgelei te word.

Hy en sy gesin het vir ’n paar jaar op Bethal gewoon, toe op Newcastle en later op Secunda.

Westenraardt het sowat ses jaar terug begin om dié kunstige kant van homself te ontdek, maar hy wil dit nou as ’n meer volhoubare projek bedryf.

“Ek het vanjaar besluit om my hart en siel daarin te sit.”

Westenraardt soek iemand wat hom kan help om sy stories te vertel en om hom te help om sy projek op te lig en na die volgende vlak te neem.

“Ek is nie goed daarmee om voor mense te praat nie.”

Enige iemand wat raad het vir Westenraardt, of hom wil ondersteun, kan hom skakel by 082 655 5717.


LEES OOK: One dead as car ploughs into pedestrians near Evander

LEES OOK: Skuts van die Hoëveld Jagtersklub kuier op Delmas 


Exit mobile version