TLU sê besoedeling is ’n groot probleem in Bronkhorstspruit-omgewing

Waterprobleme in Gauteng raak net erger.

Boere langs die Elandsrivier aan die noorde van Gauteng het onlangs opgemerk dat die ekologie in en om die rivier verander het.

Daar is minder voëls en inseklewe in en om die rivier wat ’n aanduiding van ’n probleem is. Die grootste bekommernis is die afvalwaterbehandelingswerke waar 64% tans in ’n hoë of kritiese risiko is.

Volgens Henri Combrink, Cullinan Boere-unie voorsitter en die TLU SA Sentraalstreek voorsitter, beteken dit dat gedeeltelike behandelde afvalwater of geen behandelde afvalwater in die riviere in die omgewing beland.

Combrink het dadelik die Departement van Water en Sanitasie in kennis gestel van die probleem en hulle het mense uitgestuur om die saak te ondersoek.

Combrink het gesê, “Nog watermonsters is geneem om die oorsprong van die besoedeling te bepaal, en ons behoort eersdaags die uitslag van die ondersoek te kry.”

Hy meen dit is belangrik dat waar besoedeling van riviere, spruite en vleilande vermoed word, dit dadelik aangemeld moet word vir verdere ondersoek.

Erika Helm, TLU SA voorsitter van Plaaslike Regering Komitees het verlede week aangedui, “Hierdie impak hou ‘n uiters hoë risiko vir watergebruikers in omdat dit kan lei tot erge gevolge vir menslike gesondheid, veral die uitbreek van cholera en chroniese diarree.”

“Wanneer ‘n munisipaliteit toetse uitvoer en daar bevind word dat die drinkwater ‘n wesenlike gevaar vir menslike gebruik inhou, moet alle inwoners volgens wetlike voorskrifte in kennis gestel word van die situasie.”

Die ekonomiese impak vir landbou is ‘n ernstige bron van kommer omdat boere nie hierdie water vir produksie van vars produkte kan benut nie,” het Helm gesê.

Die boere het op eie onkoste watermonsters laat toets en die uitslae het getoon daar is baie hoë vlakke van e-coli in die water.

Daar is baie boere langs die rivier wat landbouverwante produkte verbou wat ‘n groot bekommernis is. Dit hou groot risiko’s in vir voedselproduksie en ander landbouprodukte sowel as buitemuurse aktiwiteite langs die rivier.

Waar landbougrond besoedel word, is die koste om die grond weer te rehabiliteer hoog en tydrowend met verlies aan produksie en inkomste.

Die departement voorsien maandeliks data oor gehalte soos ontvang van munisipaliteite en dit kan verkry word by ws.dws.gov.za/iris/mywater.aspx.

Kontak jou naaste boere-unie vir hulp of kontak TLU SA vir meer inligting by 012 8048031 of Henri Combrink by 082 552 9428.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version