Local news

Oud-Standertonner neem spog jagtoekenning in ontvangs

“’n Droom van 33 jaar gelede is verwesenlik om ’n eenmanbesigheid op te bou na ’n leier in die professionele jagindustrie.”

Erik Visser, ’n oud-Standertonner, het ’n spogtoekenning as jagondernemer van die jaar tydens ’n onlangse konferensie in ontvangs geneem.

Die Professionele Jagters Assosiasie van Suid-Afrika (Prasa), gee erkenning aan lede wat presteer en dié toekenning is vir die eerste keer gemaak.

Internasionale sprekers het die konferensie ook bygewoon en skaars ’n week later is Visser as Houston Safari Club in Texas, VSA, se ‘Outfitter of the Year’ aangewys.

“Ek is trots op die bedryf en om Suid-Afrika steeds as die nommer een jagbestemming vir buitelanders te hê,” het Visser gesê.

Dié seun van Johan en Dirkie Visser is in 1965 op Standerton gebore en het aan Hoërskool Standerton in 1982 gematrikuleer.

Weermagopleiding van 1983 tot 1984 het daarna gevolg alvorens ’n B.Com-graad suksesvol in 1987 voltooi is.

Visser het in 1989 besluit op ’n professionele jagkursus en het in 1991 op ’n 50ha grond naby Loskopdam sy eie onderneming, Quagga Safaris, begin.

“Ek het verskeie jag- en wildsplase tussen 1991 en 2021 ontwikkel vanaf Hoedspruit tot teen die Limpoporivier naby Ellisras,” het hy ook gesê.

“’n Droom van 33 jaar gelede is verwesenlik om ’n eenmanbesigheid op te bou na ’n leier in die professionele jagindustrie.”

Hy bedryf tans sy onderneming op 25000ha grond vanaf Manketti Game Reserve naby Ellisras.

Visser het in daardie jare met ’n ou weermag-landrover gery, al wat hy kon bekostig, dit aan die gang gestoot, en kliënte opgelaai.

“Ek het self gejag, kosgemaak en onthaal om die onderneming van die grond af te probeer kry.”

Die buiteland het egter gewink en in 1995 onderneem hy sy eerste bemarkingsreis na die VSA om drie klein, buiteleweskoue te gaan doen om sodoende die industrie te bemark.

Visser straal behoorlik van trots oor Quagga Safaris.

“Vandag word dit aangeskryf as een van die leiers in die bedryf met ’n reputasie van hoë standaarde, diens en kwaliteitsafaris aan buitelandse jagters.”

Die oorhandiging van sy trofee het tydens ’n glansgeleentheid plaasgevind. Die president van Safari Club International, John McLaurin, uit die VSA het Visser vereer.

“Dit was ’n eer om dié toekenning te ontvang, maar ook ’n nederige ondervinding” het Visser mee afgesluit.

“Ek besef alles is genade van Bo.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button