Local news

Shanel Nunes van Bethal kry ’n kitaar

Gestremde jong vrou se Kerswens word bewaarheid.

Die 21-jarige serebraal gestremde vrou, Shanel Nunes, is sedert 15 November in die hospitaal. Haar ma, Madeleine van Staden, het ook ’n maand in die hospitaal deurgebring toe sy met pankreatitus gediagnoseer is.

Van Staden is uiteindelik na ’n maand vanuit die hospitaal ontslaan, maar toe word Shanel siek en Van Staden het net met haar tas vanuit haar hospitaalkamer gestap na Shanel se kamer.

Shanel het begin siek word terwyl Van Staden nog in die hospitaal was en gesukkel met blaas-, oor-, en boonste lugweginfeksie en sy het ook ’n ‘fistula’ (’n abnormale konneksie tussen twee liggaamsdele) ontwikkel weens brandwonde wat sy vroeër vanjaar opgedoen het.

Shanel se infeksietelling is steeds hoog en die dokters sukkel steeds om die ‘fistula’, wat so groot soos ’n gholfbal is, te verwyder. Sy is verlede week oorgeplaas na ’n hospitaal in Pretoria.

Die Ridge Times het verlede week berig dat dit Van Staden se grootste wens is om vir Shanel ’n regte kitaar vir Kersfees te kan gee.

Shanel het vir die eerste keer in haar lewe ’n regte kitaar gesien, vasgehou en gespeel toe Van Staden se vriendin wat haar opgepas het terwyl Van Staden in die hospitaal was, haar kitaar saamgebring het.

“My kind se hele gesig het gestraal en sy was so gelukkig,” het Van Staden gesê.

Die gemeenskap het uitgereik en Shanel het haar kitaar gekry by twee weldoeners van die gemeenskap.

Van Staden het die twee vroue wat die kitaar geskenk het, bedank en gesê dit beteken baie vir haar en haar dogter.

“Sy is so bly, hoewel sy in die hospitaal is, wil sy net elke dag op die kitaar speel,” het Van Staden gesê.

Sy benodig steeds ’n rolstoel vir haar kind, omdat sy by die huis ’n gewone rolstoel gebruik om haar tussen die kamer en die badkamer te laat beweeg.

Die een wat hulle tans gebruik, is al stukkend en skuur Shanel se bene as sy op hom sit.

Weldoeners het so paar jaar gelede vir Shanel ’n elektriese rolstoel en ’n karretjie geskenk, maar beide is stukkend en Van Staden het nie genoeg geld om dit te laat herstel nie.

Die elektriese rolstoel se een hefboom is stukkend en dit kort ’n nuwe battery terwyl die karretjie net eendag toe Van Staden met Shanel wou gaan stap het, ophou werk het.

Die karretjie sal sowat R3 800 kos om te herstel en Van Staden sal bly wees as die karretjie of die elektriese rolstoel herstel kan word.

Dié ma en dogter het ook uiteindelik na sewe jaar se gesukkel, ’n nuwe huis deur Disabled People South Africa (DPSA) gekry wat in eMzinoni geleë is.

Hulle kan egter nog nie intrek nie, want hulle benodig nog ’n geyser vir die huis, asook, omheining, teëls binne die huis en ingeboude kaste.

Enige iemand wat dié gesin wil ondersteun of ’n bydrae wil maak, kan Van Staden skakel by 072 259 9780.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button