Local news

Legendariese boom tussen Delmas en Nigel byt in die stof

Beweringe dat die boom tot so oud as 75 jaar oud was toe dit geval het, kon egter nie gestaaf word nie. Die verhaal rondom die ware ouderdom van die boom en hoe dit daar beland het, het waarskynlik saam met die boom geval.

’n Massiewe Bloekomboom, met sy wortels glo vir baie jare stewig langs die R42 pad tussen Delmas en Nigel geanker, het aan die einde van sy bestaan gekom.

Gedurende ’n storm, gepaardgaande met erge rukwinde op 13 November deur en om Delmas het dié stukkie geskiedenis geval en so tot ’n hartseer einde gekom.

Die legendariese ou Bloekom laat skynbaar baie herinneringe vanoor die jare heen op menige inwoners en oud-inwoners van Delmas en omgewing. By navraag het uit die volksmond baie weergawes oor die ware ouderdom van dié Bloekom gekom.

Toe Gene Nell op 14 Junie ’n foto van die boom op ’n plaaslike Facebookblad, Delmas Gesels, geplaas het, het baie inwoners die boom van kindsbeen af herken en kommentaar daaroor gelaat.


Waarskynlik die laaste foto van die legendariese Bloekomboom aan die R42. Foto: Gene Ellis

Een so ’n persoon het laat weet haar ouers 43 jaar op Delmas woonagtig was en sy dus grootliks op Delmas grootgeword het.

Volgens haar sou die boom dus 50 jaar plus oud moes wees. Hartseer was daar ook want in Jackie Struweg Croone se inskrywing het sy gesê haar pa het in 1981 net voor die boom verongeluk.

’n Ander het laat hoor dat die boom ’n baie groot omtrek het en dat sy op Wolwefontein woonagtig was. Haar hond het glo hase gejag en is ongelukkig in die pad doodgery waarna die hond onder die boom begrawe is.

Christelle Snyder se inskrywing het gelees sy woon al vir 51 jaar op ’n plaas in die omgewing.


Die Bloekomboom aan die R42 pad kort voordat dit deur sterk stormwinde ontwortel is. Foto: Gene Ellis

“Die boom is nog altyd daar.”

Ook Carien de Wet se inskrywing het gesê die boom het reeds sedert die jare vyftig daar staan.

“Ek en my man Danie het altyd daar gestop en die boom bewonder. Na ons troue in 1980 het ons na Bloemfontein verhuis en wanneer ons op Delmas by my ouers gaan kuier het, het ons daar gestop om die kinders skoon aan te trek en hul hande en gesigte gewas voordat ons by oupa en ouma sou aankom. Ons seun is nou 40 jaar oud en ons dogter 38.”

“Dié Bloekomboom moet ’n ereplek kry en bewaar word,” het Carien toe gereken.


Die einde van ’n legende.

Nog inskrywings het gelees dat die persoon reeds 69 jaar oud is en die boom maar net nog altyd daar was.
‘n Delmas inwoner, Susan Ellis, reken ook die boom moes sowat 100 jaar oud wees.

Willie Martin Venter het in sy plasing laat weet dat die boom reeds sedert sy geboorte daar geanker gestaan het.

“Dit was 62 jaar gelede,” het Venter bygevoeg.

Nog ’n inskrywing lees, “My ouers het 43 jaar op Delmas gebly; die boom was maar net altyd daar”.

Dit was verder ook glo die blyplek van ’n boemelaar en sy hond wat later na bewering ’n gesoekte misdadiger was.


Ontwortel en omgevalle saam met baie herinneringe. Die ou Bloekomboom aan die R42 pad net buite Delmas.

Baie spesiaal egter is ook die verhaal van Ria en Dennis Webster. In haar inskrywing het gesê haar man, Dennis, haar daaronder gevra om sy vrou te word.

“Dit was meer as 50 jaar gelede,” het Ria aan Streeknuus bevesig.

Beweringe dat die boom tot so oud as 75 jaar oud was toe dit geval het, kon egter nie gestaaf word nie.

Die verhaal rondom die ware ouderdom van die boom en hoe dit daar beland het, het waarskynlik saam met die boom geval.

Intussen sou Gene Ellis en haar eggenoot seker nooit kon raai dat hul foto na alle waarskynlikheid die laaste foto van die legendariese ou Bloekomboom sou wees nie.

Streeknuus het gepoog om vir Ellis op te spoor, maar kon teen druktyd nie daarin slaag nie.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button