Bethal-ma van gestremde dogter in hospitaal vir maand

Madeleine wil graag in nuwe huis intrek sodra huis volledig en veilig is.

Dit was die eerste keer wat Madeleine van Staden weg is van haar 21-jarige serebraal gestremde dogter, Shanel Nunes.

Van Staden het op 15 Oktober begin sleg voel en is ongevalle toe by Mediclinic Highveld waar sy dadelik opgeneem is.

Die Ridge Times het in Oktober berig oor Van Staden wat sukkel met Shanel se wonde op haar bene nadat sy gebrand het met kookwater.

Van Staden is dankbaar dat sy eers begin sleg voel het twee dae nadat Shanel se bene gesond geword het.

“Ek het uiteindelik ’n goeie wondsuster gekry om Shanel se wonde te versorg en binne twee weke was Shanel se bene gesond,” het Van Staden vertel.

Sy glo alles het gebeur soos wat God dit beplan het, want twee dae voordat sy in die hospitaal opgeneem is, het ’n vriendin van eMalahleni (Witbank) wat sy 14 jaar laas gesien het, laat weet sy moet iemand op Bethal oplaai en na eMalahleni neem en wil vir Van Staden gaan kuier.

“Die persoon wat sy moes oplaai het toe gekanselleer en my vriendin het besluit om vir die naweek te kuier.”

Toe Van Staden in die hospitaal opgeneem is, het dié vriendin, Nicole Smit, dadelik aangebied om langer te kuier en by Shanel te bly. Van Staden het erge maagpyn gehad, was naar en het gesukkel om asem te haal.

“Ek het nog op die bed by ongevalle gesit, die volgende oomblik net gaan lê en eers vier dae later in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal weer wakker geword. Ek het gehoor hoe sê hulle, ‘Mevrou, mevrou, bly by ons’”.

Toe Van Staden op 19 Oktober bykom is sy na die Unitas Hospitaal oorgeplaas waar sy ’n spesialis moes sien vir pankreatitus. Van Staden kon vir vyf dae nie eet nie en moes aarvoeding kry vir 11 dae.

“Ek het net die hele tyd as ek by is, God geprys en aanbid en ek het ’n visioen van ’n groot leeu gesien en ondervind dat ek onder Sy een arm skuil en Shanel onder sy ander arm.”

Van Staden is op 28 Oktober ontslaan en terug huistoe waar sy haar 55ste verjaarsdag by haar kind wou deurbring.

Sy het egter dieselfde aand weer begin sleg voel en moes inderhaas weer na die hospitaal geneem word.


Madeleine van Staden in die Mediclinic Highveld waar sy tans op die herstelpad is.

Haar infeksietelling was nog hoër as die vorige keer wat sy in die hospitaal was en nadat die dokter toetse gedoen het, het hy gesê sy het ’n vergroeisel in haar maag.

Dié vergroeisel was nie kwaadaardig nie, maar Van Staden het steeds pankreatitus gehad en is op ’n sterk dosis antibiotika geplaas.

Sy is op 10 November uiteindelik vanuit die hospitaal ontslaan en het die naweek saam met Shanel en Smit bestee totdat sy op 12 November weer in die hospitaal opgeneem is omdat sy weer begin sleg voel het.

Dokters het haar weer op ’n sterk dosis antibiotika geplaas en Van Staden is op 15 November eindelik weer vanuit die hospitaal ontslaan, maar toe moes Shanel weer hospitaal toe.

“Ek het letterlik met my tas by my hospitaalkamer uitgestap nadat ek ontslaan is en by Shanel se kamer ingeloop,” het Van Staden vertel.

Shanel het siek geword terwyl Van Staden in die hospitaal is en gesukkel met blaas-, oor-, en boonste lugwerkinfeksie en sy het ook ’n fistula (’n abnormale konneksie tussen twee liggaamsdele) ontwikkel weens haar brandwonde.


ALSO READ: Portia wants to reach out to abused women


Dokters het op 16 November probeer om die fistula te verwyder of dreineer, maar omdat dit te veel geswel was, kon hulle nie en het net tydelik die bloeding gestop.

Shanel moet nou eers vir ’n MRI skandering gaan sodat die dokters kan besluit hoe om haar verder te behandel.
Van Staden se grootste wens is om vir Shanel ’n regte kitaar te kan gee vir Kersfees.

Terwyl Van Staden in die hospitaal was, het Smit elke aand vir Shanel laat kitaar speel en sy het ook vir haar ma gesing en kitaar gespeel die naweek wat sy by die huis was, voordat sy weer in die hospitaal opgeneem is.

“Haar hele gesig straal as sy op daardie kitaar speel en sing. Sy geniet dit so baie en dit maak haar rustig,” het Van Staden gesê.

“Selfs al skenk iemand net vir ons ’n ou kitaar wat hulle nie meer gebruik nie, hy hoef nie eers snare te hê nie, ek kan dit laat regmaak.”

Intussentyd probeer Van Staden steeds ’n gewone rolstoel te kry vir Shanel. Sy gebruik dié rolstoel by die huis om Shanel vanaf die kamer na die badkamer te neem.

Weldoeners het al vir Shanel ’n paar jaar terug ’n elektriese rolstoel en ’n karretjie geskenk, maar beide is stukkend en Van Staden het nie geld om dit te laat herstel nie.

Die elektriese rolstoel se een hefboom is stukkend en dit kort ’n nuwe battery. Die karretjie het net eendag ophou werk en sal sowat R3 800 kos om te herstel.

Van Staden het ook uiteindelik na sewe jaar se gesukkel, ’n nuwe huis deur Disabled People South Africa (DPSA) gekry wat in eMzinoni geleë is.

Hulle kan egter nog nie intrek nie, want hulle kort nog ’n geyser, omheining om die huis, teëls binne in die huis en kaste.

Enige iemand wat vir Van Staden en Shanel wil help en ondersteun, kan Van Staden by 072 259 9780 skakel.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version