Local news

Silwerjare Ouetehuis op Bethal hou jaarvergadering

Die bestuur bedank die gemeenskap vir hulle volgehoue ondersteuning en bydrae.

BETHAL – Die SAVF Silwerjare Ouetehuis op Bethal het onlangs hul algemene jaarvergadering gehou en dieselfde diensbestuurspan is herverkies.

Hennie Jordaan gaan weer die voortou neem as voorsitter, terwyl Kobus Kruger gekies is as ondervoorsitter, Jan Uys as mediabeampte, Greta Janse van Rensburg as tesourier, Kruger Spies, Ben Greyling en Annetjie Fourie as addisionele lede, Ingrid Human wat in beheer van die geldinsameling gaan wees en Mariaan van der Westhuizen as sekretarresse.

Jordaan het gesê Silwerjare het in 2023 weer finansiële uitdagings in die gesig gestaar.

“Ons het, danksy God se genade, harde werk deur die personeel en vrywilligers, vasgebyt en Silwerjare is steeds volhoubaar en relevant,” het Jordaan gesê.

“Dit kan en mag nie verander nie. Ons is geroep om ’n diens aan die gemeenskap te lewer en sal daarmee volhard.”

Hy het die algemene bestuurder van Silwerjare, Magriet Scholtz en haar span vir hul harde werk bedank. Hy het ook die diensbestuurspan bedank vir hul toewyding, insig en opofferings, wat bygedra het tot die volhoubaarheid van Silwerjare.

“Sonder die mooi harte van vrywilligers, hul harde werk en omgee, sou ons nie die mas kon opkom nie.”

Jordaan het gesê die span het goed gevaar met geldinsamelingsprojekte asook die werwing van skenkers en hy het elke skenker en persoon wat ’n bydrae aan Silwerjare gelewer het, bedank.

Van die projekte wat Silwerjare in 2023 aangepak het sluit in die waterprojek, installering van sonkrag ligte binne die geboue. Scholtz het gesê Silwerjare leun sterk op vrywilligers en sy het ook almal betrokke bedank.

Sy het gesê die 39 vrywilligers wat by Silwerjare betrokke is, doen berading, die fisiese-, emosionele- en geestelike vesorging van die inwoners, geldinsamelingsprojekte en die bestuur van Silwerjare.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button