Local news

Vrou van Leandra sukkel met Sassa en benodig suurstofmasjien

Gesin vra vir hulp van gemeenskap.

Annatjie Botha (55) se gehalte van lewe het aansienlik afgeneem sedert sy ‘n paar maande gelede met emfiseem gediagnoseer is.

Botha het in 2020 begin agterkom dat sy gereeld kort van asem is, vinnig moeg raak, het begin sukkel om te slaap en sy kon nie meer ver ente loop nie.

Haar broer het haar na ’n dokter in Pretoria geneem, maar hoewel sy vyf keer daar was kon hy nie vasstel wat fout met Botha was nie,

Haar dogter, Nadia Hanekom, het haar toe na ’n dokter op Standerton geneem en dié dokter het Botha gediagnoseer met emfiseem.

Botha is later, toe haar toestand steeds nie verbeter het nie, in Evander Hospitaal opgeneem waar sy vir vier dae aan ’n suurstofmasjien gekoppel was.

Na haar ontslag uit die hospitaal het die mediese personeel gesê Botha het nie meer suurstof nodig nie.

“Ek kan niks meer vir myself doen nie, dan is ek uitsasem. Ek kan nie meer lê en slaap nie, want dan kan ek nie asem kry nie; ek moet nou met kussings regop sit en slaap,” het Botha gesê.

Botha het vir jare gerook, maar sy het, sedert sy met emfiseem gediagnoseer is, opgehou.

Hanekom het by verskeie ondernemings wat suurstof voorsien, uitgevind wat dit maandeliks kos om ’n suurstofmasjien- en bottels vir haar ma te huur, maar dit kos sowat R1 000.

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en Hanekom soek werk terwyl haar man onlangs sy eie onderneming begin het en herstelwerk op motors doen om die pot aan die kook te hou.

Hanekom het vanjaar by die afsluiting van Sasol vir ’n kontrakteur administratiewe werk gedoen, maar sy soek ’n voltydse werk op Secunda.

Sy het vroeërjare by restaurante op Secunda gewerk. Botha het vroeërjare motor herstelwerk gedoen en ook vir ’n kontrakteur op Trichardt gewerk.

“Ek het saam met vyf broers grootgeword en hulle het my alles van motors geleer,” het Botha gesê.


LEES OOK: Duo from Secunda Round Table takes on open sea challenge to help children


Sy het tot in 2019 vir ’n onderneming op Leandra as stoorvrou gewerk, maar dié onderneming moes mense aflê en Botha het haar werk verloor.

Hanekom en Botha was ook al by die Sassa-kantore op Evander en Standerton, om aansoek te doen vir Botha om ’n mediese ongeskikdheidstoelaag te kry, maar hulle kon nie daarin slaag nie.

By die Sassa kantoor op Evander, het dié ma en dogter elke keer ’n ander storie gehoor of daar is elke keer vir hulle gesê hulle het die verkeerde dokumentasie of hulle moet oor twee weke teruggaan.

“Ons was al vier of vyf keer daar en dit kos ons elke keer R400 in brandstof om vanaf die plaas te ry na die Sassa-kantoor toe,” het Hanekom gesê.

By die Sassa-kantoor op Standerton, het die dokter Botha net een kyk gegee en besluit sy is gesond genoeg om te werk.

“Hy het haar nie eers ondersoek, of na haar hartklop of niks geluister nie,” het Hanekom gesê.

Toe Hanekom vir die dokter vra wat hulle dan moet doen aangesien haar ma nie gesond genoeg is om te werk nie, het die dokter gesê Botha kan administratiewe werk doen.

Hanekom wil nou graag vir haar ma ’n suurstofmasjien koop, maar dit kos sowat R4 500 en die gesin kan dit nie bekostig nie.

Enige iemand wat die gesin wil ondersteun kan Hanekom skakel by 072 701 7566 of hulle BackaBuddy blad besoek by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/annatjie-botha-5726665369217530402.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button