Ouerpaar van Secunda glo steeds Mia is ’n wonderwerk

Dit gaan goed met klein Mia wat al vier jaar oud word.

Dit gaan goed met Mia Potgieter (3) wat op 30 Maart 2020 drie maande te vroeg gebore is en sedert haar geboorte serebraal gestremd is.

Die Ridge Times het in September 2021 ’n artikel oor Mia gedoen.

Dokters moes, kort na Mia se geboorte, verskeie kere kariopulmonêre ressustasie (CPR) op haar toepas en sy was dadelik na haar geboorte aan ’n asemhalingsmajien gekoppel.

Sy het die eerste drie maande van haar lewe in die intensiewe sorgeendheid van die hosptiaal deurgebring en die eerste nege maande van haar lewe in die hospitaal.

Haar longe het in dié tyd verskeie kere platgeval en in die nege maande wat sy in die hospitaal was, het dokters selfs een keer haar ouers laat weet hulle moet hul dogtertjie gaan groet want sy gaan dit nie maak nie.

Die egpaar glo steeds dit is’n wonderwerk dat Mia nog leef. Dié kleinding kan steeds nie self sluk, eet of bottel drink nie en het ’n permanente voedingsbuis in haar maag.

Dokters het destyds vermoed Mia het Downsindroom, maar sy het negatief getoets vir dit.

Sy het, toe sy twee weke oud was, bloeding op haar brein gekry. Haar ouers, Marnes en Ria Potgieter moes destyds vorms teken dat hulle bewus is van haar toestand en ingelig is dat sy nie lank sou lewe nie.


Mia Potgieter, op haar ma, Ria se skoot terwyl haar pa, Marnes, haar wil laat glimlag.

Mia lewe steeds en haar nekspiere het al versterk. Intussen het sy begin lag, glimlag, beweging volg met haar oë en reageer op haar ouers, versorgers en ander familielede en vriende se stemme.

“Sy het ook onlangs begin om lemoene te suig en aan ander kos wat ons vir haar gee,” het haar ma, Ria gesê.

“Dit gaan goed met Mia; sy kan bedags vir sekere tydperke sonder haar suurstofmasjien gaan.”

Mia het egter, toe sy twee jaar oud geword het, begin om epileptiese aanvalle te kry.

Die aanvalle is al minder en die dokters weet nie wat dit veroorsaak nie. Na onlangse toetse het dokters bevind dat haar breinfunksie soos dié van ’n baba jonger as een jaar is.

Een mylpaal vir haar ouers is dat hulle ’n jaar en ’n half laas nodig gehad het om Mia hospitaal toe te neem.

“As sy nou siek word, is dit net soos ’n baba wat verkoue kry, sy herstel vinnig weer, hoewel sy vinniger gewig verloor as normale babas wanneer hulle verkoue het,” het Marnes gesê.

Die gesin het in Desember vir die eerste keer vir Mia see toe gevat en by Amanzimtoti gaan vakansie hou.

“Sy het dit baie geniet, maar dit was ’n uitdagende vakansie vir ons, want ons voertuig het gebreek oppad terug,” het Marnes vertel.

“Dit is nogal spanningsvol as ’n mens langs die pad staan met ’n kind wat suurstof nodig het en jy weet nie hoe lank die ekstra battery vir haar suurstofmasjien gaan hou of hoe lank ‘n mens daar gaan moet wag vir hulp nie.”

Die gesin het versorgers wat voltyds na Mia kyk terwyl Ria skoolhou by Laerskool Trichardt en Marnes in die produksie afdeling by Sasol werk.

“Die versorgers is al deel van ons gesin en Mia is baie lief vir hulle,” het Ria gesê.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version