Local newsStreeknuus

Delmas Herleef skud vere reg vir die fees van alle feeste

’n Feestelike gees het in die lug gehang en met trekker, sleepwa en hope geesdrif het die optog in die parkeerarea van die Willowbrooke Winkelsentrum op Delmas afgeskop en deur verskeie strate in Delmas beweeg.

Die Delmas Kwêla Makietie is op hande en die Delmas Herlewers het behoorlik gees gevang.

’n Feestelike gees het in die lug gehang en met trekker, sleepwa en hope geesdrif het die optog in die parkeerterrein van die Willowbrooke Winkelsentrum op Delmas afgeskop en deur verskeie strate in Delmas beweeg.

Dié optog was in aanloop tot die groot Makietie wat op 4 November plaasvind asook om Delmas Herleef se waardering teenoor sakelui wat mildelik tot die sukses van Delmas Herleef bygedra het, te betuig.

Dié groot Kwêla-wendorp Makietie word by Hoërskool Delmas aangebied en beloof om iets vir almal te bied.

Die Makietie vorm deel van die prys wat Delmas Herleef gewen het nadat die dorp aan die hande van dié groep vrywilligers tot Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2023 aangewys is.


Die stigterslede van Delmas Herleef, Doktor Martin van Rensburg en Madel Fourie.

Volgens Delmas Herleef se bestuurskomitee kan die inwoners van Delmas gereed maak vir ’n Makietie soos min, want as deel van hul prys gaan daar groot gegaan word met boeresport, musiek en sang deur verskeie bekend kunstenaars, verskeie kosstalletjies, ’n braaibroodjie kompetisie, uitstallers tesame met pret en hope gees.

Die sukses word grootliks toegeskryf aan die toewyding van die vrywillige groep, bekend as Delmas Herleef, onder die bekwame leiding van die Hervormde Kerk op Delmas se predikant, doktor Martin van Rensburg en Madel Fourie.

Volgens die twee het Delmas Herleef nederig ontstaan en die gesamentlike doel was om iets aan Delmas se agteruitgang en voorkoms te doen.

Die grondslag vir Delmas Herleef was gedurende Erfenismaand van 2020 gelê en klein projekte het die lig gesien.

Met deursettingsvermoë en harde werk was daar klein begin. Rommel was opgetel, slaggate herstel, randstene geverf, parke en die begraafplaas skoongemaak.


LEES OOK: Santa Shoebox Project in Secunda area needs help


Samewerking was ook by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit bewillig en gou het boere, besighede en ander instansies saam ingeval en bygedra om vir Delmas ’n splinternuwe baadjie aan te trek.

Saam met Delmas se kroning as kykNET se Kwêla Dorp van die Jaar op 6 Augustus, het die prysgeld van R1m in kontant, in samewerking met Lottoland gekom.

Delmas Herleef het sommer gou weer na die wen-aankondiging skouer aan die wiel gesit en nuwe projekte aangepak.

Bome is in Samuelweg geplant, die randsteen verf projek gaan steeds voort en op die vooraand van die groot Makietie was slaggate op 28 Oktober gevul.

Met die groep se eie trekker en snyer, ’n goed toegeruste slaggat-herstel-sleepwa word daar steeds gereeld projekte aangepak. Asblikke is ook op verskeie plekke in die dorp aangebring in die hoop om inwoners aan te moedig om nie rommel te strooi nie.

’n Gesamentlike kerke-dankdiens word ook vir 5 November om 09:00 op die sportveld van Laerskool Delmas beplan.

“Ons gaan dankie sê vir dit wat die Here besig is om met ons dorp te laat gebeur. Kom wees deel van ons gesamentlike dankdiens en bring sommer die hele gesin saam,” het Van Rensburg gesê.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus 

Related Articles

 
Back to top button