Local newsLocal sport

Sasol Rugbyklub op Secunda het groot planne vir die toekoms

Hulle wil binne die volgende drie jaar die klub een van die vyf bestes in die land maak.

Die Sasol Grip & Rip Secunda het massiewe planne vir die toekoms.

“Ons wil binne die volgende drie jaar een van die top vyf rugbyklubs in Suid-Afrika te wees,” het Lodewyk Uys, hoofafrigter met erns gesê.

Hy en die klubvoorsitter, André Schwab, het verlede week die klubbestuur se planne op die tafel gelê.

Hoog op die prioriteitslys is die plan om die spel meer wetenskaplik aan te pak en om na die welvaart van die spelers te kyk

“Ons het mense soos fisioterapeut Lumé Brits wat ’n voorloper in Suid-Afrika is op harsingskuddingstoetse (concussion testing), op ons voorstoep.

“Haar kennis en programme is van kardinale belang,” het Uys gesê.

Eugene (Loffie) Eloff, voormalige Junior Springbok- en Leeuafrigter, het reeds by die rugbyklub ingeskakel om met strategiese beplanning en mentorskap te help.

Sy kennis gaan vir die senior, en ook vir die juniors van die klub van onskatbare waarde wees is Uys van mening.

Uys het op sy dag by Boland onder Eloff se afrigting gestaan. Verder wil Eloff terugploeg en doen ‘n beroep op skole om ook te deel in sy kennis.

Daar is reeds met die Ontogenesis Rugby-akademie vir spelers tussen die ouderdomme van ses en 18 begin.

Volgens Uys is dit op hierdie vlak waar klubrugby eintlik reeds begin en waar talent vir die toekoms geidentifiseer kan word.


LEES OOK: Golden Eagles win at sports festival in Bronkhorstspruit


Die rugby akademie is oop vir enige kind wat sy rugby vaardighede wil verbeter Die bestuur voel dat jong plattelandse spelers se kanse om as provinsiale spelers raakgesien te word, deur die akademie verbeter sal word.

“Ons het reeds die steun van die Blou Bulle gekry,” het Uys gesê.

Hoewel Secunda steeds in Mpumalanga meeding, is die Blou Bulle se tuiste nader en meer prakties. Die Pumas is steeds ons hoof fokus oor ons in hulle jurisdiksie val – maar die Blou Bulle se onbaatsugtige hulp stel ons in staat om vir spelers nog meer geleenthede te bied.

Sasol Rugbyklub het hul oog op die jaarlikse Gold Cup, ’n toernooi waarin slegs die room van die land se klubs meeding.

Volgens Uys is daar ook sprake van ’n internasionale Gold Cup-toernooi en wil Sasol gereed wees wanneer dit aangekondig word.

“Ons kyk beslis daarna om tot ’n professionele klub te ontwikkel waar spelers moontlik inkomste kan verdien om vir ons te speel.

“Dit gebeur reeds by groter klubs in die land en dit is ook internasionaal die norm,” het Uys vertel. Hy het self ook as ’n professionele klubspeler in Europa meegeding.

Hierdie stap kan, volgens Uys en Schwab, na ’n groter klub vir die omgewing lei waar sterk spelers ontplooi kan word by geaffillieerde kleiner klubs te speel.

Die grootste struikelblok wat tans in die pad van hierdie blink droom staan, is geld.

“Ons stelsels is in plek om te kan groei, maar ons het die inkoop van die publiek nodig om die droom te laat gebeur,” het Schwab verduidelik.

Voornemde borge kan gerus wees dat hul skenkings aftrekbaar is vir belasting deur ‘n non-profit met artikel 18(a)
Die klublede sal ook van 2024 by ‘n paar gemeenskapprojekte en welsynprojekte betrokke raak, om ’n verskil in die dorp te maak.

Intussen maak die klub gereed vir die voorseisoen wat reeds in die middel van November begin met die oog daarop om teen Paasfees vir die 2024-seisoen gereed te wees.

* ’n Manne-aand word vir 1 Desember beplan waar die bestuur meer oor hul toekomsvisie wil onthul.

Die eregaste van die aand is Eugene Eloff, Alwyn Hollenbach en ‘n paar ekstra verassings met Pietman Geldenhuys wat vir die vermaak sal sorg.

Toegang is R5 000 vir ’n tafel van 10 vir ‘n aand wat die publiek beslis nie sal mis nie. Mense wat belangstel om die aand by te woon, kan vir Schwab skakel by 083 298 6505.

Belangstellends wat by die rugby-akademie of die klub betrokke wil raak, kan vir Uys skakel by 082 646 0522.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button