Local newsStreeknuus

Delmas Herleef bult spiere

“Druk die toeter en waai sommer vriendelik as jy die rooi trekker met die groen snyer in die dorp gewaar.”

Delmas Herleef se bestuur het op 13 Oktober ‘n splinternuwe Falcon F40/150 ‘Slasher’ van Afgri in Delmas in ontvangs geneem.

Die groep vrywilligers het glo ’n tydjie gelede vir Riaan Muller, die takbestuurder op Delmas, genader. Muller het, sonder om te skroom, ingestem.

“Delmas Herleef se aksies om ons dorp skoon te hou lê my na aan die hart,” het Muller gesê.

Die Herleef-span beoog om die broodnodige stuk masjienerie binnekort agter hul eie Delmas Herleef trekker in te span om sodoende die gras, veral gedurende die somermaande, kort en netjies te hou.

Volgens die komitee-lede van Delmas Herleef was ’n eie trekker bo-aan hul wenslysie, sou hulle Kwêla se Dorp van die Jaar kompetisie wen. Met die prys in die sak, kon die trekker dus aangekoop word. “n Gesnyde grasperk is mos net so goed soos ’n nuwe laag verf,” het Madel Fourie gesê.

Gras in parke was soms erg onversorg en het heup hoogte bereik en vir langer as twee jaar moes dié groep vrywilligers glo bakhand by boere en ander organisasies staan om ’n trekker en snymasjien te leen.

Die Rubens van Discount Implements het ’n Massey Ferguson 290 teen ’n uitstekende prys en ’n groot afslag daarby, opgespoor en siedaar die eie trekker droom is bewaarheid.

Die vrywilligers van Delmas Herleef het Streeknuus meegedeel dat hulle ongelooflik dankbaar is vir mense en besighede wat help om hul hande sterker te maak en so ’n verskil op Delmas te maak.

“Druk die toeter en waai sommer vriendelik as jy die rooi trekker met die groen snyer in die dorp gewaar,” het Fourie verder laat hoor.

Delmas Herleef nooi almal uit om saam met hulle op 4 November by die Delmas Kwêla Makietie fees te vier.

“Alle winste uit die Makietie gaan aangewend word om die dorp verder op te knap. Hierdie is jou kans om terug te ploeg, want saam, maak ons ’n verskil,” her doktor Martin van Rensburg, voorsitter van Delmas Herleef bygevoeg.


Related Articles

 
Back to top button