CrimeLocal newsStreeknuus

Vrou wat man by Modderoos Boorde glo doodry, het by slaggoffer en sy vrou gewoon

Familielede het Leon Jansen van Rensburg se familie sê sy dood as onnodig bestempel.

Die moord op Leon Janse van Rensburg (50), inwoner van Modderoos Boorde het die gemeenskap van Delmas in rou, maar ook skok, gedompel.

Dit blyk dat daar meer vrae as antwoorde is rondom die omstandighede waarin die moord plaasgevind het.

Dit nadat Samantha Gauche (35) na bewering op 30 September omstreeks 14:00 drie keer met haar wit Chevrolet Sonic oor Janse van Rensburg gery het.

Volgens inligting het Gauche ten tye van die voorval by die Janse van Rensburg-egpaar, Leon en Hettie, op hul kleinhoewe op Modderoos Boorde gewoon.

Die drie het glo die Saterdagmiddag onder die motorafdak gekuier. ‘n Stryery het na bewering ontstaan waarna Gauche na haar motor gestorm het.

Leon wou keer dat Gauche ry, maar Gauche was skynbaar so vasbeslote om te ry dat sy na bewering bo-oor Leon gery het – nie net een keer nie, maar drie keer.


Samantha Gauche (35).

Sy het hierna van die toneel gevlug, maar slegs een kilometer verder het sy beheer oor haar motor verloor en teen ‘n boomstomp langs die pad gebots en in ‘n geploegde land tot stilstand gekom.

Gauche het toe glo te voet verder gehardloop. ‘n Tuinier wat die gebeure dopgehou het, het alarm gemaak en twee ander werkers vanuit die omgewing het vir Gauche op ‘n brug in haar spore gestop.

Die Sundra Polisie sowel as paramedici was gekontak. Leon is op die toneel dood verklaar. Gauche is by die ongelukstoneel in hegtenis geneem waarna sy van die moord op Leon aangekla is.

Sy het vir die eerste keer op 2 Oktober op ‘n aanklag van moord in die Delmas Landdroshof verskyn, maar die borgaansoek is uitgestel omdat die woonadres wat sy verskaf het, nie bevestig kon word nie.

Gauche het op 9 Oktober weer vlugtig in die hof verskyn, maar die formele aansoek om borgtog was egter weer tot 12 Oktober uitgestel.

Die saak is weer eens uitgestel tot 19 Oktober wanneer Gauche om borgtog sal aansoek doen. Tydens Gauche se verskyning op 9 Oktober was Leon se dogter, Shenique en van haar vriende en kollegas daar om haar te ondersteun.


Die agterkant van Samantha Gauche se motor nadat sy na bewering drie keer oor Leon Jansen van Rensburg gery het. Foto: Facebook.

Ook Leon se ouer broer Lourens Jansen van Rensburg was by die hofverrigitnge teenwoordig.

Lourens en sy vrou het spesiaal vanaf Wes-Afrika, waar hulle tans werksaam is, na Suid-Afrika gevlieg om Leon se herdenkingsdiens by te woon.

“Wat gebeur het, was onnodig. My broer se dood was onnodig. Hy het baie slegte besluite in sy lewe gemaak, maar dié laaste fout wat hy gemaak het sy lewe gekos,” het Lourens Streeknuus meegedeel.

Lourens het verder gesê dat hy as ouer broer baie keer vir Leon bygestaan en raad gegee het wanneer dit by belangrike besluitneming gekom het.

“Dié keer het ek egter ver van die huis af gewerk. Ek was nie daar om te keer nie en Leon het die grootste fout van sy lewe gemaak, een wat sy dood veroorsaak het. My broer is vermoor. Ons moet nou maar net glo dat die waarheid sal uitkom.”


Shenique Jansen van Rensburg by die landdroshof op Delmas met die verskyning van die vrou wat haar pa na bewering doodgery het.

Leon se vrou, Hettie kon nog nie vir kommentaar bereik word nie. Volgens inligting is sy wel uit die hospitaal ontslaan, waar sy vir skok behandel was, maar verkeer steeds in ‘n toestand van skok.

Streeknuus het ook vertroulik verneem dat Hettie teen 9 Oktober nog nie in staat was om ‘n verklaring by polisie rondom die gebeure op 30 September af te lê nie.

Sy was egter Donderdag by die hof met Gauche se verskyning.

Gauche het ook onlangs weer haar nooiensvan aangeneem. Haar getroude van is aan Streeknuus bekend, maar word ter wille van haar twee minderjarige kinders weerhou.

Beide kinders is tans in die sorg van twee onderskeie familielede.

Leon se herdenkings-diens het op 11 Oktober vanuit die Volle Evangelie Kerk op Delmas plaasgevind.


LEES OOK: OPDATEER: Vrou wat oor man ry, steeds agter tralies

LEES OOK: Vrou wat glo drie keer oor man ry by kleinhoewe op Modderoos Boorde word van moord aangekla


Die voorkant van Samantha Gauche se motor nadat sy na bewering oor Leon Jansen van Rensburg gery het. Foto: Facebook.


Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button