Local newsLocal sport

Standerton se Xander Bailey bereik groot hoogtes op die skietbaan

Volgens ma Celestie, oefen Christo en Xander in die erf en staan stil, bekyk die son, hou die windrigting dop en oefen posisies.

Xander Bailey het ’n hoogtepunt in sy skietloopbaan bereik met sy aanwysing as SA junior kampioen van 2023.

Altesaam 20 juniors het einde Augustus in Bloemfontein om dié gesogte titel meegeding.

Xander het onder die mentorskap van sy pa, Christo en oupa reeds vanaf die ouderdom van nege begin aanlê na die teikens.

Pa en seun het ook in spanverband deelgeneem, as lede van die A-span van Edelvalk.

Hy was en is gereeld te siene op die Evert Genis Skietbaan waar die Edelvalk-tak se skuts wedywer vir punte op die register van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging.

In aanloop tot die Suid-Afrikaanse proewe vind die presidentskietkompetisies plaas en die tellings word in ’n databasis ingevoer, waarna die 20 beste juniors hul slag kan wys.

Xander het heel nederig, vol van humor, sy gemoedstoestand tydens kompetisies beskryf.


Xander Bailey hou seëvierend die trofee omhoog.

“Elke kompetisie is ’n verrassing en ek raak nie senuagtig nie,” het hy vertel.

“Jy dink altyd jy is gereed tot jy op die skietbaan is.”

Volgens sy ma, Celestie, oefen Christo en Xander in die erf. Hulle staan stil, bekyk die son, hou die windrigting dop, oefen posisies en skiet nie baie patrone af nie.

“Om in posisie te kom, is eintlik ‘muscle memory’,” het hy dit beskryf.

Op die vraag oor hoe seisoene die skut beïnvloed, het Xander gesê die geweer skiet hoër in die somer as in die winter.

Volgens Xander, hang dit af van die hitte van ontbranding van die kruit.

Voordat hy aan ’n kompetisie deelneem moet die patroondoppies onder hande geneem word omdat dit rek as dit geskiet word.


LEES OOK: Laerskool Goedehoop se o12-hokkiespan eindig tweede in provinsie


Die kompetisie is straf onder die skuts en Bloemfontein was geen uitsondering nie.

“Die standaard word net beter en beter,” het Xander gesê.

“Die gemoedelikheid en kameraderie onder die skuts is opvallend.”

Die top drie senior skuts het elkeen 710 punte uit die maksimum van 720 behaal en moes daarna na die V-kol (’n ronde sirkel binnne die hart van die teiken) aanlê. Hul uitslae was 14, 13 en 10.

Xander het al 350/360 op die vlakteteiken behaal en 320/360 op die bosvarkteiken. ’n Amerikaanse teleskoopmaatskappy het Xander onder hulle vlerk geneem en borg hom.

Dié Graad 11-leerder van Hoërskool Standerton het voornemende skuts aangemoedig om aan die sport deel te neem.

“Almal moet iewers begin, maar begin net.”




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button