Local newsStreeknuus

Delmas VLU-tak groet van ’n talentvolle ikoon

“Ek bly altyd ’n VLU-vrou en sal altyd aan die mooi en doelgerigte organisasie krediet gee.”

Soos elke maand het Delmas se Vroue Landbou Unie (VLU) weer op die derde Dinsdag hul takvergadering gehou.

Die geleentheid op 15 Augustus het egter met ’n bietjie weemoed gepaard gegaan. Die tak moes van ’n jarelange lid en vriendin afskeid neem.

Dit volg nadat Jeanette Scheepers en haar eggenoot, Loutjie, beter bekend as ‘oom Toffie’, onlangs na Pretoria verhuis het.

“Ons moes afskeid neem van ’n dierbare vriendin en talent-ikoon,” het skakelbeampte Magriet Swart laat hoor.

Volgens die taklede het Jeanette diep spore in die Delmas VLU-tak getrap en was sy deurgaans ’n groot inspirasie en motivering.

“So veel so dat sy ’n mens soms buite jou gemaksone geplaas het, maar dit skep selfvertroue om te probeer en daardeur leer ’n mens,” het Marié Terblanche, takvoorsitter gesê.

Terblanche het voortgegaan deur vir Jeanette te bedank omdat sy nooit geskroom het om haar kennis te deel nie.

Op haar beurt het Jeanette beklemtoon dat die samesyn en uitruil van gedagtes vir haar baie waardevol was en dat kritiek deel van die leerproses is.

“Ek bly altyd ’n VLU-vrou en sal altyd aan die mooi en doelgerigte organisasie krediet gee,” het Jeanette gesê.

Hierna was dit tyd vir Terblanche om ’n pragtige orgidee as afskeidsgeskenk aan Jeanette te oorhandig.


LEES OOK: Michael still fights for his life after a motorcycle accident in Secunda


So eie aan die kultuur van die VLU was die ‘teedrink saam met Jeanette geleentheid’ spesiaal gemaak deur die gasvroue se keurige eetgoed.

Na afloop van die vergadering se formaliteite, het Ansie van Zyl ’n werksklas aangebied om masjientegnieke te demonstreer wat nodig is om ‘n damesbloes te maak.

“Ansie is bekend vir die maak van trourokke en matriekafskeidrokke. Die werksklas was uiters leersaam,” het Swart bygevoeg.

Die vroue het na afloop van die oggend se bedrywighede, tevrede en ingelig huiswaarts gekeer.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button