CrimeLocal newsStreeknuus

Kershaw-moordenaars na drie jaar verhoor op Delmas

Die ware toedrag van sake rondom Chantel Kershaw se dood het egter nooit in die hof duidelik geword nie.

Die oorblywende twee verdagtes in die moord op Chantel Kershaw het vir die afgelope drie weke in die beskuldigde bank in die Rondgaande Hooggeregshof op Delmas voor Regter Lindiwe Vukeya terreggestaan.

Dit het gevolg nadat dié saak reeds sedert Oktober 2020 om verskeie redes weer-en-weer uitgestel was.

Elvis Kenneth Mashego (50) en Reuben Thomas Tivane (51) het tereggestaan op aanklagte wat wissel vanaf die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie tot roof met verswarende omstandighede en moord.

Kershaw is op 30 September op ’n kleinhoewe op Rietkol in haar motorhuis vermoor kort nadat sy vanaf Delmas teruggekeer het.

Haar ma, Grieta Spiers, was in die huis met ’n wapen gedreig, aangerand en vasgebind, maar kon daarin slaag om alarm te maak.


Grieta Spiers en haar tweelingsuster, Elsie Coetzer neem van die vermoorde Chantel Kershaw afskeid. Foto: Streeknuus argief

Mashego en Tivane het in Spiers se Chevrolet-bakkie van die toneel gevlug, net om kort daarna die bakkie op die R50-pad te rol. Albei het te voet probeer vlug, maar is in hegtenis geneem.

Op dieselfde dag is Spiers se tuinier, Moses Themba Masuku ook in hegtenis geneem.

Tydens die verhoor het verskeie getuies die bank betree en die grusame besonderhede rondom die moord van Kershaw het tydens ondervraging en kruisverhoor aan die lig gekom.

Beide Tivane en Mashego het ontken dat hulle vir Kershaw vermoor het. Tivane het aangevoer hy was deur Mashego gekontak om te help met die vervoer van skrootmetaal vanaf die Spiers-kleinhoewe.

Mashego het op sy beurt getuig dat hy slegs op die perseel was om skrootmetaal aan te koop.


Die blou baadjie waarmee Grieta Spiers vasgebind is. Foto: Streeknuus argief

Volgens Mashego het die twee verdagtes saam met Spiers se tuinier, Moses Masuku, onder ’n boom gewag vir Kershaw se tuiskoms.

Met haar tuiskoms sou Masuku glo vir Kershaw in die motorhuis gehelp het.

Terwyl Tivane tydens sy getuienis homself nooit in die huis of motorhuis van die oorledene geplaas het nie, het hy getuig Mashego het hom gedwing om met ’n bakkie vanaf die toneel te vlug.

Mashego het weer getuig dat Tivane wel na die motorhuis gegaan het en dat hy kort daarna ’n gil gehoor het.

Mashego het gesê hy het hierna na die motorhuis gegaan waar hy vir Tivane en Kershaw in ’n struweling aangetref het.


Die Chevrolet bakkie waarin twee verdagtes vanaf die Kershaw moordtoneel gevlug het. Foto: Streeknuus argief

Tivane het hom beveel om toue aan te gee, wat hy toe wel gedoen het. Die tuinier, Masuku, is glo op die dag met sy eie gordel vasgemaak.

Tivane en Mashego het van die toneel gevlug met die lewelose en halfnaakte liggaam van Kershaw op die vloer en die vasgebinde Masuku langs haar.

Die ware toedrag van sake rondom Kershaw se dood het egter nooit in die hof duidelik geword nie.

Masuku het op 2 Maart 2022 ook voor Regter Lindiwe Vukeya verskyn op aanklagtes van roof met verswarende omstandighede en regsverydeling.

Dit het gevolg ná hy skuldig bevind was op die twee aanklagte teen hom, regsvereideling en roof met verswarende omstandighede. Hy is hiervoor 15 jaar tronktoe gestuur.


ALSO READ: Lekwa’s Illegal dumping sites are transformed


Die moordklag is teen hom terggetrek omdat hy skuldig gepleit het en bereid was om teen die ander twee beskuldigdes te getuig.

Masuku het erken hy was die meesterbrein agter Kershaw se dood. Hy het ook tydens Tivane en Mashego se verhoor getuig.

Masuku het die twee beskuldigdes vertel dat hy gesien het hoedat daar geld in die Spiers-huis getel word en het hy die twee gevra om hom te help om die ‘geld te vat’.

Spiers moes self ook die getuiebank inneem en dit op die dag van haar dogter se 47ste verjaarsdag.

Sy het getuig hoedat sy deur ’n lang man met ’n vuurwapen gedreig en van haar tablet en selfoon beroof was. Sy was hardhandig behandel, op die vloer gegooi en haar hande was vasgebind.


Die motorhuis op die kleinhoewe op Rietkol waar Chantel Kershaw vermoor is. Foto: Streeknuus argief

Regter Vukeya het in haar uitspraak gesê Tivane en Mashego was nie betroubare getuies nie. Tivane is egter van die klag oor die besit van ’n onwettige vuurwapen vrygespreek.

Vukeya het aangevoer dat daar nie bo redelike twyfel bewys kon word dat die wapen wat ná die moord in ’n sloot saam met Spiers se tablet gevind is, wel aan Tivane behoort het nie, omdat hy nooit werklik in besit van die wapen gekry was nie.

Spiers kon ook nie ’n duidelike beskrywing van die wapen gee nie, want sy was nooit in staat om haar aanvaller in die oë te kyk nie.

Vukeya het egter beide Tivane en Mashego skuldig bevind op die aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede en vir die maksimum vonnisse gevra, wat onderskeidelik lewenslank en 15 jaar sou beloop.

Tivane en Mashego se regsverteenwoordiger het op 12 September om versagtende omstandighede aangevoer en beide het weer die getuiebank ingeneem.


Tweelingsusters, Elsie Coetzer en Grieta Spiers kort na die moord op Kershaw.

Nie Tivane of Mashego het enige berou getoon nie. Tivane het aangevoer dat hy nie om verskoning kan vra vir iets wat hy nie gedoen het nie, terwyl Mashego aangedui het dat hy slegs jammer is oor die dood van Kershaw.

Sedert die aanvang van die borgaansoeke in die moord op Kershaw, het Spiers en haar tweelingsuster, Elsie Coetzer élke hofsitting bygewoon.

Spiers het op 11 September vir die eerste keer nadat die hof verdaag het, in trane uitgebars. Coetzer was daar om haar te ondersteun.

Teen druktyd was vonnisuitspraak deur Vukeya vir 13 September beplan. Spiers het Streeknuus op 12 September meegedeel dat sy moeg is, maar dankbaar dat vonnisoplegging nou so naby is.

“Niks wat die regter gaan sê of enige vonnis gaan egter my Chanté (haar troetelnaam vir haar oorlede dogter) terugbring nie,” het Spiers gesê.

Spiers het gesê sy het volle vertroue in die regter en glo dat sy die gepaste vonnis op Chanté se moordenaars sal uitspreek. Lees meer in die volgende uitgawe van Streeknuus oor die vonnisoplegging op Tivane en Mashego.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button